NG Wolkberg basaar binnekort

Die NG Kerk Tzaneen hou eersdaags op 27 en 28 Mei basaar. Hul plakkate in Boundarystraat is egter so deur die reën beskadig dat dit nie meer heeltemal leesbaar is nie. Die Herald help graag om die leë spasies in te vul.

NG Wolkberg gemeente hou weer basaar op die kerkterrein.

Daar sal ‘n verskeidenheid van tuisgebak beskikbaar wees: Koeke, terte, brode, konserf, beskuit, klein koekies, allerhande lekkernye en peuselgoed wat jy aan kan dink.

Vars vleis, biltong, handwerk, groente en vrugte, plante (palms, vetplante, grondbedekkers en saailinge).

By die witolifantstal is daar van meubels, linne en gordyne tot tweedehandse klere, elektroniese toerusting tot snuisterye. Iets nuuts hierdie jaar is die “arts en craft” hoekie wat baie verrassings inhou.

Heerlike basaarkos: Pannekoek, vetkoek, yankee’s, poeding, worsrolle, kerrie en rys en ons immergewilde Kalahari sosaties.

Die teetuin gaan weer die hoogtepunt van die naweek wees. Lekker versnaperinge en dan natuurlik die ontbytsessies – Vrydagoggend sowel as Saterdagoggend.

Vir die kinders? Hope vermaak! Sonja en Tjokker kuier by ons om 14:00. Moet dit asseblief nie mis nie. Toegang slegs R20 per persoon.

Baie speelgoed, lekkergoed, springkastele, springmielies, gesigverf en mak plaasdiertjies om aan te vat en te pamperlang.

Vrydagaand en Saterdagoggend kom kuier Tzaneen Kleuterskool se trompoppies by daar. Saterdagoggend is daar ‘n vertoning met hommeltuie (drones). Iets wat jy nie mag misloop nie.

Vrydagaand ‘n lekker kuieraand met plaaslike talent om die kampvuur.

Klasieke motorskou op die spyskaart vir Saterdagoggend.

Laaste maar die minste nie- ‘n blommeskou in die kerkgebou. Die beoordeling van die rangskikkings geskied Vrydag (27 Mei) om 09:00 en die prysuitdeling om 12:00. Waarlik iets om na uit te sien.

 

Exit mobile version