Jý moet bietjie kyk

Jy stop haastig by die stopstraat in Hoedspruit, daar verby die toerisme sentrum, net voor jy die dorp verlaat.

Ref ongeduldig jou kar. Jy sien nie die gebukkende ou tannie wat met bewe-klein treetjies stadig oor die stopstraat probeer skuifel nie. Want jy dink aan ander dinge.

Net verby Gravelotte trek jy in ‘n wolk stof af. Die vrugteverkoper probeer verbouereerd jou rigting-vrae beantwoord. Hy’s halfpad deur ‘n sin as jy snap wat hy bedoel en met ñ spoed wegtrek om hom en sy vrugte onder ‘n laag stof te los. Jy kom dit nie eens agter nie. Want jy’s gefrustreerd.

Net na Letsitele se afdraai, swaai jy links in by die besige vulstasie en parkeer langs een van die pompe. In die verbygaan, beveel jy die joggie om net die venster te was en jy storm by die winkel in. Jy sien nie die ander karre agter jou, wat plek soek om petrol in te gooi nie. Want jy’s honger.

Binne groet die klerk by die wegneem-etes jou vriendelik en jy antwoord haastig met jou bestelling. Om jou wag almal geduldig vir hul etes maar jy trippel sigbaar van een voet na die ander in ooglopende ongeduld. Want jy’s laat.

Later, in Tzaneen by jou afspraak, sukkel jy om parkering te kry. Jy parkeer sommer jou kar op die gestremde parkeerplek. Jy wil-wil skuldig voel, maar troos jouself sommer vinnig. Want jy gaan mos nie lank wees nie.

Skuins na sonsak, ingevoerde whisky wat gedemp rinkel oor ys in jou glas. Jou vingers dans voor jou. Jy’s die Richard Clayderman van ipads, daar waar jy voor jou gastehuis op die stoep sit. Jy skryf ñ sterk bewoorde brief aan een van die groot koerante. In die brief is jy soms amper vaderlik, soms effens neerhalend, soms vol raad en soms vol kwinkslae. Jy weet die redakteur gaan dit waarskynlik verkort maar jy gee nie om nie.

Jy skryf ñ brief vir President Jacob Zuma.

Want jý is kwaad.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version