EntertainmentLifestyle

Dana onthou die droogte van sy kinderdae

Die Herald publiseer weer eens met Dana se spesiale vergunning, nog 'n storie van hom.

In die huidige ernstige droogte wat ons land tref kan geen ander storie meer gepas wees nie.

(Hierdie is ‘n ou storie. Dit het in my boek Onder die Radar verskyn. Maar ek het gister deur die Swartland en dele van die Karoo gery – en die wêreld is droog. In die Noorde het die reën ook nog nie gekom nie, weet ek. As jy op die platteland jou verstand gekry het, spook droogtes die res van jou lewe by jou. Dana)

So ‘n droogte vergeet ‘n mens nooit nie. Dit bly iewers in jou sit.

Dit was die jaar toe ek agt geword het, die jaar toe dit wéér nie in ons deel van die Noord-Kaap gereën het nie.

Selfs die vaalbos se blare het verlep en laatmiddag kon jy nie meer die dorpsooms op hul voorstoepe hoor lag nie.

Hulle het aan hul kromsteelpype se stele gekou en hul oë het pal deur die lug gesoek, terwyl ‘n tolbos oor die dorpsplein rol en hulle praat oor boorgate wat opdroog en perskebome wat nie dra nie.

Die son het die dorpsdam se laaste water kom vat en net ‘n laag modder het oorgebly, wat begin kraak en bars en opkrul het, asof die aarde besig was om vel-af te gaan.

Dit was asof alles stadiger begin beweeg het: Uit Kuruman se koers het oom Gert se vaal Thames-lorrie stadig met ‘n vrag voer vir sy Jersey-koeie in ‘n lugspieëling aangedryf gekom, en in die Commercial Hotel se kroeg het oom Johnny stadig met ‘n glas whiskey na sy mond gesoek, want die man van die bank het klaar vir Haasfontein kom opeis.

Soms het so ‘n simpel wind vir ons rooi Kalahari-sand gebring, wat rondom die klapperhaarmatjie by die voordeur saamgepak het.

En later het Pa opgehou om die pampoenrank agter-in die jaart met ‘n gieter water te gee.

Die wêreld se probleme het vir ons onbelangrik geword. Niemand was meer bekommerd oor die Sappe se oorwinning in ‘n tussenverkiesing in Pinetown of die oorlog in Viëtnam nie.

Elke aand het ons voor die radio gewag vir die weervoorspelling ná die seweuurnuus; en elke aand was daar niks vir ons nie.

Elke aand was ons die elders waar dit mooiweer en warm sal wees – mooiweer en warm terwyl die blink straeltjie uit ons boorgat al modderiger raak en oom Hans een middag ‘n stuk of veertig uitgeteerde dorperooie moet op sy plaas moes keelafsny.

Die meeste gesprekke het rondom reën begin draai. Het jy gehoor daar of daar het hulle darem so ‘n los buitjie gehad?

Dit was net stofnatmaak, maar dis darem iets.

Elke windjie en wolk was ‘n belofte, wat oral bespreek is.

Een Sondagoggend het dominee in die kerk afgekondig: ‘n Biddag vir reën sal Vrydagoggend om elf gehou word.

Nou was daar nie meer Gatjieponders en Doppers en Hervormers en Apostolies op die dorp nie.

Die biddag was oop vir almal.

Dominee was kalmer as gewoonlik, hy het nie een keer tydens die preek sy vuis in die lug geskud nie, en later was daar geleentheid vir gebed.

Oom Andries het eerste orent gekom: “Dierbare, Almagtige Vader, ons raak vandag klein en nederig hier voor U…

Ek kan nie onthou wanneer dit weer by ons begin reën het nie.

Ek onthou daardie droogte beter as die reën wat die uitkoms gebring het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button