Die halfeindstryde is hier-Go Bokke

Dis semi-finaal tyd by die Rugby Wêreld Beker 2015 en Tzaneense rugbyliefhebbers gons behoorlik oor die uitslag van die naweek!

Die Bokke het na ‘n naelskraapse laaste minuut oorwinning teen Wallis, dit gemaak tot in die semi-finaal teen Nieu Seeland.

Die gevreesde All Blacks het niemand met enige onsekerhede gelos na hulle reuse vernielslag van die Franse nie.

As daar iemand iewers op aarde was, wat nog getwyfel het of Richie McCaw en sy manne dit in hierdie toernooi tot in vyfde rat kan maak, is hierdie twyfel na die afgelope Saterdag waarskynlik by die venster uit.

Dit was oop ketels vir die manne in swart en hulle het die Franse op hul tipiese, vreesaanjaende Kiwi manier, eenvoudig uit hulle pad gevee. Ja goed, die Franse is die Franse en mens weet nooit watter Franse span op ‘n gegewe Saterdag gaan opdaag nie, maar daar is bitter min spanne daar buite wat Saterdag se All Black aanslag sou kon oorleef.

Om die waarheid te sê is daar, volgens hierdie skrywer, slegs twee spanne wat op hul heel beste dag ‘n kans het om Nieu Seeland te troef en dit is ons eie Bokke en daardie geeltruie van Australië.

Die Aussies se wedstryd teen Skotland kon egter ook so maklik anderkant toe geswaai het.

‘n Verdagte beslissing deur Suid-Afrikaanse skeidsregter, Craig Joubert, het aan Australië ‘n strafskop besorg wat uiteindelik die wen punte beteken het.

As mens kyk na die semi-finale, is die All Blacks teen die Springbokke beslis die wedstryd wat die rugbyliefhebber of fynproewer sal laat regop sit. Verwag ‘n klipharde stryd tussen die voorspelers, met Suid-Afrika wat op die dag ‘n antwoord moet kry vir McCaw en sy kollegas op die grond.

Soos Wereld Beker uitklop wedstryde maar werk, behoort beide spanne nie veel kanse te vat nie.

Sou die Bokke ‘n werklike goeie dag op kantoor beleef en daarin slaag om die Kiwi agterpelers se besit te beperk of ten minste net stadiger te maak, kan daar dalk net ‘n verrassende uitkoms plaasvind.

Gebeur die verwagte egter en McCaw en sy voorspeler vriende beneuk die Bokke op die grond, behoort die Nieu Seelandse agterlyn te veel skietgoed vir die Bokke se agterste sewe te hê.

Talle ander veranderlikes kan ook ‘n groot verskil maak.

Het Fourie du Preez ‘n afdag agter die oond, kan ons maar vergeet van wen. Bereik iemand soos Willem Alberts weer sy normale spelpeil (wanneer dit tel en ons hom die nodigste het!) staan ons ‘n kans.

Voeg hierby die beseerde Lood de Jager en Bismarck du Plessis. Sonder Lood veral is Bok geledere erg uitgedun.

Soos elke ander getroue Suid-Afrikaner is my voorspelling hierdie week in twee gedeel.

My hart sê Suid-Afrika met enkele punte maar my brein sê Nieu Seeland.

Die Argentyne en Australië spook sake uit in die ander semi-finaal.

Op papier (en gesien in die lig van die Aussies se spelpeil tot dusver in die toernooi) behoort Australië die pyp teen ‘n begeesterde Argentynse vyftiental te rook.

Die Argentyne, baie soos Frankryk, is egter nie ‘n span wat hulle vreeslik aan voorspellings steur nie. Hop die bal die naweek vir hulle reg op kritiese oomblikke kan hulle dalk net deurskuur finaal toe.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button