Dana kuier by Tilla van Marble Hall

Dana Snyman was weer so gaaf om toe te laat dat ons nog 'n verdere stuk plaas uit sy rugbyboek wat volgende jaar beskikbaar gaan wees. Dana skryf:

(Ek het ook by Tilla van Marble Hall aangegaan op my rugbyreis. Derduisende mense ken haar as die vrou met die kwaaie stem wat so gereeld inbel na kykNET se rugbyprogram SuperRugby toe.)

Tilla van Marble Hall:

Marble Hall is groter en bedrywiger as wat ek gedink het dit sou wees. Ek kry nie Tilla Hechter se huis nie. Ek bel haar. “Is jy hier?” vra sy in daardie heserige, ongeduldige stem van haar. Nee, sê ek, ek soek nog.

“Ek het dan gesê net ná die treinspoor links, die huis met die blou dak,” sê sy. “Luister jy nie?” Ek ry terug na die treinspoor toe, draai daar links. Maar ek sien nie ‘n huis met ‘n blou dak nie. Ai. Ek bel haar weer.

“Jinne, maar jy is dom,” sê sy. “Ek sal buite gaan staan en vir jou waai. Kyk net mooi.”

Uiteindelik hou ek op die sypaadjie voor ‘n huis met ‘n blou dak en ‘n waaiende vrou by die silwer tuinhekkie stil. Rondom haar draai twee foksterrier-hondjies rond. Die son skyn woedend oor die Barbertonse madeliefies in haar voortuin. Moet ek nie liewer die WP-kêppie op my kop afhaal nie? wonder ek vir ‘n oomblik. Maar, nee, besluit ek. Nee.

Sy is ‘n lang, regop vrou met blou tintstrepe in haar hare. ‘n Mens sal nie sê sy is al naby 70 nie. “Jy sukkel, nè,” sê sy. “Sluit tog net jou kar, jong. Hulle steel hier.”

Hier staan sy voor my: Tilla van Marble Hall – die vrou agter die stem wat so gereeld, vir hoeveel jaar nou al, inbel na kykNET se Superrugby-ateljee en reguit, eerlike vrae vir Kobus Wiese en Toks van der Linde en ander rugbykenners vra. Wat doen dié een in die span? En hoekom is daai een nie daar nie? En wat van die gemors in die skrums? En hoekom… En waarom… Een aand het sy vir Heyneke Meyer gesê sy dink hy behoort haar in sy afrigtingspan te hê. Frik du Preez, die rugbylegende, het selfs een van sy honde na haar vernoem. Tilla van Marble Hall is een van die bekendste, onbekende mense in die land. Dan is ons in haar sitkamer. Dis ‘n Woensdagoggend, en op die TV is ‘n rugbywedstryd aan gang. “Dis die Ausies se rugby-liga,” sê sy. “Ek kyk mos als, jong.” Sy gaan sit op die bank voor die TV. Op die tafeltjie regs van haar lê ‘n pakkie Peter Stuyvesant-sigarette langs ‘n, wel, blou aansteker. Een van die twee hondjies hop op die bank en gaan lê by haar.

“O, fok, wat gaan daar op jou kop aan?” vra sy en kyk na my asof sy my vir die eerste keer werklik raaksien. Ek haal my WP-petjie af en sit dit langs my neer. Tannie Tilla is ‘n Blou Bul. Dit weet die hele land. Sy praat van die Bul-spelers asof hulle haar kinders is. “Ek kry ou Morné so jammer… Ek sien Steggies kan darem weer speel…” Sy het ‘n paar jaar gelede afgetree ná 31 jare diens by die poskantoor. Eers in 1998 het sy ernstig rugby begin kyk. Dit was nadat haar oorlede man, Chris, siek geword het. Emfiseem. “Chris was later so swak, hy wil net lê,” vertel sy. “Dan sê ek vir hom: ‘Kom, ou man.’ Dan help ek hom regop, dan bring ek hom hier tot voor die TV. Dan kyk ons rugby. Die rugby het hom weer laat opstaan. Dit het hom minder ellendig laat voel.” Sy kan nie onthou wanneer en hoekom sy die eerste keer na die SuperRugby-ateljee toe gebel het nie. Dit moes een of ander tyd gebeur. Sy was van jongs af iemand wat nie haar mond gehou het oor dinge wat haar pla nie. Sy is baie betrokke by die plaaslike gemeenskap – veral by die kerk, die buurtwag en die bejaardes se versorgingsentrum. ‘n Paar jaar gelede was die Supersport-span hier op Marble Hall vir ‘n buite-uitsending. “Ek dag toe, ek sal gaan.

Toe hoor ek dit kos R250 ‘n kaartjie. Toe sê ek: ‘Not te tiekie betaal ek R250’. Toe bel ons voorstitter van die Sakekamer, en sê: ‘Jy moet daar wees, Tilla. Jy sit Marble Hall op die map. Jy kom verniet in’.”

Sy het vir Toks en Kobus daardie aand ontmoet. “Ou Toks kyk my só, en sê: ‘Jinne, Tilla is dit nou jy’. En toe omhels hy my met daai ou groot lyf van hom. Ek dog ek versmoor.” Sy frons. “Kobus is ‘n regte snob. Iets het hom daai aand gepla, ek weet nie wat nie.”Sy gaan maak vir ons tee en wys vir my al haar Blou Bul-goed: die harde helm met die horings, die trui, die waslap… Later poseer sy met daardie helm op haar kop vir ‘n foto voor die huis – ‘n lewende teenstelling: Op haar kop die dreigende horings, om haar mond ‘n sagte glimlag.

Tilla van Marble Hall, die stem van derduisende rugbyliefhebbers wat te bang is om die die openbaar te sê wat hulle in die geheim dink.

(Op die derde foto is Frik du Preez saam met sy een hond Tilla. Hy het een aand saam met van sy vriende gekuier – onder meer die prokureur Olaf de Meyer en adv. Jaap Cilliers – en toe vra hy hulle wat kan hy hierdie jong hondjie noem wat hy pas gekry het. Toe sê een van hulle: Tilla van Marble Hall.)

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version