School sportSport

Vossies wen Limpopo skole krieketliga

Die Hoërskool Ben Vorster se eerste krieketspan het die afgelope naweek die finaal van die Limpopo skole krieketliga teen PHS gewen en dring deur na die kwarteind van die Noordvaal-kompetisie.

Die wedstryd is op ‘n koue en bewolkte dag in Polokwane gespeel.

PHS het die loot gewen en besluit om te kolf. Die Vossies se boulers het goed geboul, maar het aanvanklik gesukkel om ‘n deurbraak te maak.

Verbroude vangkanse het dinge verder bemoeilik en met die telling op 179/3 na 33 boulbeurte het dit gelyk of PHS ‘n groot telling gaan aanteken.

Die Vossie-veggees het egter ingetree en PHS verloor hul laaste sewe paaltjies vir slegs 44 lopies. PHS is in die 46ste boulbeurt almal uitgeboul vir 223 lopies.

Die volgende boulers het goed gevaar: Vernon Harms (4 vir 43 in 8 beurte), Johan Harms (2 vir 13 in 8 beurte) en Cobus Geldenhuys (2 vir 45 in 7 beurte).

Na middagete het die “Black Caps” gaan kolf.

Hulle het twee vinnige paaltjies verloor, maar ‘n vennootskap van 84 lopies tussen Franco Oberholzer en Johan Harms,om die 3de paaltjie, het die Vossies weer op koers gebring.

Johan Harms het skitterend gespeel en het 89 lopies aangeteken.

Hy is goed ondersteun deur sy medekolwers, o.a. Franco Oberholzer, wat die tweede meeste lopies aangeteken het (28).

Hoërskool Ben Vorste het die wenteiken in die 43ste boulbeurt behaal om met 4 paaltjies te wen. Die span sal later in die kwartaal in die kwarteind van die Noordvaal- kompetisie speel.

Related Articles

Back to top button