Nog ‘n Fast 5 trofee vir die Vossies

Daar is hierdie seisoen oënskynlik geen keer aan die Hoërskool Ben Vorster se Fast 5-netbalspanne, soos wat hulle die een goeie uitslag na die ander inbring nie.

Die Vossies se O/15 en O/17 spanne het 15 en 16 September teen ‘n paar van die land se gerekende netbalskole te Hoërskool Oos Moot deelgeneem.

Die O/15 span is as die kampioene van die toernooi aangewys en die O/17 span was naaswenners in hulle ouderdomsgroep.

Die O/15 span het drie van hulle poelwydstryde gewen. Hulle het Hot Shots 32-8, Hoërskool John Vorster 40-6, en Hoërskool Wagpos 50-3 gewen. Die meisies het teen Hoërskool Menlo park 16-25 verloor.

O/17 naaswenners. Voor van links: Lerato Hutamo en Nielia Blignaut. Agter: Beverley Mackaukau, Chanel Machimane, Nthabiseng Ramothwala, Jorina Vorster, die afrigter, Dora Maloba, Kagiso Mapiti en Tshepang Pilusa.

In die semi-finaal het hulle egter Hoërskool Diamantveld 25-19 gewen om in die finaal weer teen Menlo te staan te kom. Hierdie keer het die Vossies die wedstryd egter 16-14 gewen.

Die O/17 span was tot en met die finaal onoorwonne. Hulle het in hulle poelwedstryde afgereken met Hoërskool Diamandveld 24-12, Hoërskool Wagpos 36-13, Curro Roodeplaat 40-4 en Hoërskool Kanonkop 41-6.

Die span het hulle semi-finaal teen Hoërskool Oos Moot 32-15 gewen, maar het 16-26 in die finaal teen Hoërskool Menlo park verloor om in die tweedeplek te eindig.

Die O/15 span gaan tydens die Oktober skoolvakansie aan die Kay Motsepe Top Skole toernooi vir O/15 spanne deelneem en die O/17 span gaan hulle titel in die Nasionale Fast 5 Kampioenskap verdedig.

Exit mobile version