School sportSport

Vossies kookwater by Limpopo hokkie kampioenskap

Die Hoërskool Ben Vorster se vyf meisies hokkiespanne het die langnaweek aan die semi-finale van die Limpopo-kampioenskap te Polokwane deelgeneem.

Die O/15A- en tweedespan het deurgedring na die finale, wat op 17 Junie plaasgevind het en die res van die spanne het vir die derde en vierde posisies uitgespeel.

Die finale het vir hokkie uit die boonste rakke gesorg. Die Vossies se tweedespan het as naaswenners en die O/15A-span het as Limpopo kampioene uit die stryd getree.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat hierdie span die Limpopo wenners is. Hulle het in hulle semi-finaal teen Hoërskool Piet Potgieter, wat verlede jaar die O/14 Noordvaal toernooi wenners was, te staan gekom en 3 – 0 gewen.

Die O/15’s se finaal was teen Stanford Lake Collage.

Christine Krüger in aksie tydens die finaal teen Stanford Lake College.

Lumé Vorster het die Vossies se eerste doel binne die eerste vier minute van die wedstryd aangeteken. Teen halftyd het die Vossies 2- 0 voorgeloop na ‘n doel deur Rivoningo Mangalana.

In die tweede helfte het die Vossies die krane behoorlik oopgedraai en nog drie doele aangeteken. Die doele is deur Rivoningo Mangalana, Lane Prinsloo en Lihani Vorster geslaan. Stanford Lake College het verbete teruggeveg, maar kon slegs een doel in die tweede helfde aanteken. Die Vossies het die finaal gevolglik 5-1 gewen om as Limpopo kampioene gekroon te word.

Die uitslae van die Vossies se ander semi-finaal wedstryde was as volg:

0/14A verloor 0-3 Piet Potgieter.

0/16A verloor 1-2 Ben Viljoen.

Tweedes verloor 3-2 Frikkie Meyer.

Eerstes verloor 1-2 Frikkie Meyer.

Zana Mabunda die kaptein van die O/15A-span in aksie tydens die finaal teen Stanford Lake College.

Die Vossies se tweedespan het deurgedring na die finale en het teen Ben Viljoen te staan gekom. Hulle het egter hulle wedstryd 0-1 verloor. Die ander drie spanne het vir die derde en vierde posisies uitgespeel. Die O/14A’s het teen Merensky te staan gekom en 1-3 verloor om in die vierde posisie in die provinsie te eindig. Die O/16A’s het ook in die vierde posisie geëindig nadat hulle 0-3 teen Frikkie Meyer verloor het. Die Vossies se eerstespan het hulle wedstryd teen Hoërskool Hans Strijdom 2-1 gewen en die derde posisie in die provinsie verower.

Die O/15A’s en die Vossies se eerstespan sal in die eerste week van Augustus in Krugersdorp aan die Noordvaal Toernooi deelneem. Finale datums sal later bevestig word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button