Vossies begin liga op ‘n hoë noot

Die Hoërskool Ben Vorster se rugby spanne het die afgelope naweek die Limpopo groot skole liga op ‘n hoë noot op hul tuisveld teen Frikkie Meyer, van Thabazimbi, afgeskop.

Ben Vorster het sewe van die nege wedstryde gewen, een gely kop geëindig en slegs een verloor.

Die hoogtepunt van die dag was beslis die eerste span se wedstryd waar die Vossies met pragtige hardloop- rugby hul opponent behoorlik laat les opsê het.

Ben Vorster se eerste span het die wedstryd goed begin toe hul senter, Heini Ferreira, gaan druk het, maar van die afskop daarna het die Vossies se verdediging in die midde veld hul weereens in die steek gelaat en kon Frikkie Meyer dadelik terug antwoord met ‘n drie om die telling gelyk te maak.

Hiérdie was egter die laaste keer dat Frikkie Meyer teenwoordig was in die wedstryd en die Vossies het oor geskakel na ‘n hoër rat en met pragtige rugby hul opponent deurmekaar gehardloop.

Die Vossies het nog nege drieë gedruk om die eindtelling ‘n asemrowende 72 – 8 te maak.

LIGA: Stefan Engelbrecht en Jonathan Viljoen in aksie.

Die Vossies se punte is soos volg aangeteken: Drieë- Pule Molokomme(3), Johan Buitendag(2), Heini Ferreira, Eduan Smit, Shima Mphahlele, Jannie Jordaan en JJ Anker.

Strafdoele- JonothanViljoen(2). Doelskoppe- Jonothan Viljoen(5)en Andre Klopper(3).

Die Vossies se tweede- en derdespan het ook prag rugby gespeel en het onderskeidelik 48 – 25 en 56 – 7 gewen.

Die 0/16A-span het gesukkel om aan die gang te kom en was in die middel van die tweede helfte nog net 12 – 3 voor.

Soos die gesegde lui- hoe later hoe kwater – het hul in die laaste kwart van die wedstryd behoorlik los getrek om uiteindelik met 45 – 3 te wen.

Die O/15A- span het weereens gelyk op met 21 elk gespeel en die O/15B-span het ongelukkig hul wedstryd 15 – 25 verloor.

Die O/14A-span het gesukkel om na hul goeie vertoning van twee weke gelede teen Helpmekaar aan die gang te kom en was halftyd slegs 5 – 3 voor.

Aan die einde van die wedstryd het die Vossies nog twee drieë gedruk om met 17 – 3 te seëvier.

Die komende naweek ruk die Vossies na Polokwane op vir die jaarlikse “Classic Clashes” teen PHS.

 

Exit mobile version