Tzaneen-hardloper haal podium in Phalaborwa-marathon

Stephanie Kruger, het 'n silwermedalje by die Marula-tot-Marula 21.1km-padwedloop in Phalaborwa gewen.

TZANEEN – Stephanie Kruger van Tzaneen het Saterdag ‘n silwermedalje by die Marula-to-Marula 21.1km-padwedloop op Phalaborwa gewen.

“Dit is die eerste keer wat ek op die podium is vir ‘n padwedloop. Ek dink die weersomstandighede het ‘n invloed gehad op my tyd. Dit was ‘n yskoue en winderige dag op Phalaborwa en die roete was taamlik gelyk. Daar het omtrent twintig vroue saam met my die 21km-roete aangepak,” vertel Kruger.

Haar vorige tyd op ‘n 21km-wedloop was 2 ure 33 minute wat sy Saterdag verbeter het na 2 ure 18 minute.

Pretty Zitha van Foskor-atletiekklub het die eerste plek gevat in die vroueafdeling met Kruger in die tweede plek en Cecelia Kenney van Phalaborwa Road Runners in die derde plek.

Kruger het onlangs by Tzaneen-maratonklub aangesluit na sy vir jare vir die Running Raspberries gehardloop het.

“Ek hardloop vir ontspanning, maar het die laaste ruk hard geoefen om my tyd te verbeter,” vertel sy.

Sy beoog om einde Oktober in Polokwane aan ‘n kankerbewus-makingswedloop deel te neem en hoop om haar tyd weer te verbeter.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version