Halfeindstryde dié naweek

Die topvier-spanne in die Noordstreekliga van die Blou Bullerugbyunie sal Saterdag op Louis Trichardt mekaar die stryd aansê vir ‘n plek in die eindstryd.

Vrydagaand het Letaba-rugbyklub se eerste span, die Bosbokke, met Kruinies op Letabapark afgereken. Die span het agt drieë gedruk en ‘n wegholoorwinning van 54-5 oor die manne van Polokwane behaal. So het hulle die laaste ligapunte in die pot gegooi voor die uitspeelrondes wat Saterdag sal plaasvind met die verdedigende kampioene, Louis Trichardt, wat gasheer sal speel.

Vrydagaand se oorwinning het die Bosbokke se selfvertroue ‘n hupstoot gegee voor hulle teen Potgietersrusrugbyklub se eerste span sal uitdraf in die halfeindstryde. Die plaasvervangerbank het ‘n positiewe impak op die wedstryd gehad en volgens Dippies de Beer van Letaba se afrigtingspan het die Bosbokke ‘n goeie wedstryd gespeel. “Ons voorspelers het hard gewerk en het geleenthede geskep vir ons agterlyn.

Lees ook: Letaba se tweede span wys hul staal

Ons is baie trots op die manne,” sê De Beer. Carel O’Neill Raymond Woest, Brad Altona en Brendon Kruger het elkeen ‘n drie gedruk terwyl Dirkie Coetzee en Nathan van den Heever elkeen twee keer agter die doellyn gaan kuier het. O’Neill het ook sewe van die agt drieë verdoel. Nathan ‘Rammies’ van den Heever is as die speler van die wedstryd aangewys.

Letaba het hierdie seisoen een wegwedstryd teen Potties verloor en een op Letaba Park gewen wat beteken dat ondersteuners na ‘n taai halfeindstryd tussen die twee spanne kan uitsien. Die aksie sal Saterdag om 15:00 afskop met Louis Trichardt se tweede span wat teen Messina se tweede span speel. Potties se tweede span sal om 16:30 teen Noordelikes se tweede span sake uitspook. Die Bosbokke se wedstryd teen Potties skop om 18:00 af voor Louis Trichardt en Noordelikes mekaar die stryd om 20:00 aansê.

Exit mobile version