Vis loop mooi tydens Ebenezer-toernooi

Altesaam 29 hengelaars het 72 grootbek- en kleinbekbaars uitgetrek.

Baarshengelaars van regoor Limpopo het die waters by Ebenezerdam in Magoebaskloof tydens die Northern Small Craft-Liga (NSCL) se sewende kompetisie vir die seisoen op 6 Julie uitgetoets. “Dit was koel en winderige toestande in die oggend, maar later het die wind gaan lê en was dit nogal warm op die water,” sê Derick de Bruyn, organiseerder van die NSCL.  Adriaan Joubert het die grootste vis van 41.5cm uitgetrek.

Jacques Louw het die kompetisie gewen met ‘n sak van vyf visse wat altesaam 168.5cm lank was. Hy het twee visse gevang in die laaste paar minute van die kompetisie. Ryan Wiggington is in die tweede plek met 162.5cm en Derick de Bruyn is in derde plek met 160.45cm. Johan Bezuidenhout, Adriaan Joubert, Marnus Steyn en Wentzel Geldenhuys het ook die top-tien gehaal en het elk vyf visse uitgetrek, afgeneem en op die Keepnet-slimfoontoepassing ingedien en vrygelaat.

Junior hengelaar, Tian Erwee was agtste met vier visse van 115.5cm in lengte. Henko Austin, ‘n hengelaar wat die dag se aksie ir sy YouTubekanaal, Feel Good Fishing met Henko, vasgevang het was in die negende plek met ‘n sak van vier visse van 111cm. Flippie Smith, wat ‘n hele paar kompetisies vroeër in die seisoen gewen het, was in die tiende plek. Hy het drie visse wat 98.5cm lank was, gevang. AJ Victor het die grootste kleinbekbaars van 35cm uitgetrek.

Lees ook: Hengelaars kan dié datums op hul visvangkalender aanbring

‘n Handvol hengelaars moes tevrede wees met net een vis op die bord en sommige moes leë hande huis toe gaan. Die volgende en laaste kompetisie van die seisoen word weer by Ebenezerdam aangebied in ‘n twee-dag-kompetisie om vyf visse in te dien.

In September sal 12 hengelaars aan die nasionale toernooi in Kwa-Zulu Natal deelneem en sal Clinton Ferreira, Lourens Mathyssen, Henko Austin, Derick de Bruyn, Johan Bezuidenhout, Quintin Coetzee, Adriaan Joubert, Leon Grobler, Theuns Smith, Barend Teessen, Flippie Smith en Johan Smith Limpopo verteenwoordig.

Dié hengelaars was die bestes in die 2023-seisoen en daar is ‘n geleentheid om Protea-kleure te verwerf. “Dit is egter ‘n groot onkoste om in die toernooi te gaan deelneem. Daarom vra die komitee dat as daar enige besighede of individuele is ‘n bydrae op enige manier kan lewer, sal dit baie waardeer word,” sê De Bruyn. In Oktober skop die nuwe hengelseisoen af.

Lees ook: Good catches and great prizes for anglers

Enigeen wat belang stel om vir volgende jaar se liga in te skryf, kan Derick De Bruyn by 083 605 5612 of Adriaan Joubert by 0767368547 of Clinton Feirreira by 0768591576 vir meer besonderhede en inskrywings skakel.

NSCL ranglys na sewende kompetisie:

1. Jake McKee (571)

2. Derick de Bruyn (564)

3. Flippie Smith (564)

4. Adriaan Joubert (560)

5. Lourens Mathyssen (560)

6. Clinton Ferreira (555)

7. Logan van Zyl (555)

8. Jacques Louw (550)

9. Marnus Steyn (547)

10. Johan Bezuidenhout (545)

Exit mobile version