Local sportSport

Klubrugby kraai koning op Letaba Park by James Tolmay-rugbydag

'n Groot skare het Saterdag die rugbyaksie van die tien klubspanne wat aan die James Tolmay-rugbydag deelgeneem het, geniet.

Dié rugbydag, aangebied deur Letaba-rugbyklub, se wedstryde is vriendskaplik en ter voorbereiding vir die seisoen, maar om te wen bly lekker en Tzaneen se spanne, Letaba se eerste – en tweede spanne en Nkowankowa se span het al drie oorwinnings behaal. Letaba se eerste span het laataand koning gekraai in die hoofwedstryd teen Louis Trichardt-rugbyklub se eerste span. Die manne van Letaba het met 20-15 as eindtelling geseëvier. Brad Altona het vir Letaba ‘n drie gedruk. Giepie Labuschagne het geslaag met ‘n verdoelskop en ‘n strafskop.

Die blitsige vleuel, Bernard van der Schyff het twee keer vir Letaba agter die doellyn gaan kuier en het die wendrie gedruk. Letaba se tweede span het ook 20-0 afgereken met die derde span van Louis Trichardt-rugbyklub. Marno van Wyk, Willem Snyman en Bennie Kruger het elkeen ‘n drie gedruk en Wynand van Niekerk het geslaag met ‘n doelskop en ‘n strafskop. Nkowankowa het teen die Universiteit van Limpopo kragte gemeet in die openingswedstryd en het die wedstryd met 10-7 gewen. Oswin Shirilele is die speler van die wedstryd.

Lees ook: Groot klubrugby by Letaba die naweek

Tebogo Ramolefe druk ‘n drie, Hlulani Baloyi slaag met die doelskop en Hope Baloyi stuur ‘n strafskop tussen die pale deur. Noordelikes het teen Louis Trichardt se tweede span gespeel en die manne van Polokwane het die kragmeting gewen met 24-19 as eindtelling. Kruinies het ook hulle wedstryd teen Musina-rugbyklub gewen met 27-11 as eindtelling. Die jongste ondersteuners van Letaba-rugbyklub het oudergewoonte agter die pale hulle eie vriendskaplike wedstryde gespeel.

“Dit was vir ons as Letabarugbyklub ‘n groot voorreg om van ons oud-spelers as eregaste te verwelkom op Letaba Park. Dit is vir ons as klub belangrik om dankie te sê vir die generasies voor ons wat die klub gebou het tot waar ons tans is,” sê Carel O’Neill, die eerste span se kaptein. Die klub bedank graag elke span, speler, ondersteuner, uitstaller en borg wat die dag moontlik gemaak het. Om betrokke te raak of saam met die Letabaspelers te oefen, skakel die klub se voorsitter, Bennie Kruger by 083 635 1731, Dippies de Beer by 078 538 3508 of Carel O’Neill by 079 693 2292.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button