Local sportSport

Plasies grawe diep rugbywortels

Na ‘n lang wedstryddroogte het Plasiepark op 29 Julie behoorlik gewemel met al die rugbyspanne wat kragte gemeet het in die Noordvaalbeker-liga teen Hoërskool Dr. Malan van Meyerton.

Die o14’s was eerste op die veld. Die A-span het geseëvier met ‘n naelskraap 14-12 oorwinning, terwyl die B-span vasgeval het met 14-15. Die o15-spanne het hulself goed van hul taak gekwyt, alhoewel die A-span in die doodsnikke van die wedstryd die stryd verloor het met ‘n 16-18-telling.

Die B-span se wedstryd het interessant verloop deurdat die Dokkies hul span onttrek het, maar steeds met behulp van Merensky-manne ‘n wedstryd gespeel het ten einde die seuns steeds ‘n geleentheid te bied om rugby te speel. Die wentelling was 40 – 0 in Plasieland se guns. Albei die o16-spanne het aanskoulike hardlooprugby gespeel. Die A-span het met 40-0 gewen terwyl die B-span met ‘n allemintige 76-0 van die veld gestap het.

Lees ook: Larries-hokkie begin seisoen met toernooi

Die wedstryde van die tweede- en derdespanne het vir naelbyt-oomblikke gesorg. Die derdespan triomfeer met 19–7 terwyl die tweedespan met 24- 12 op die telbord, breëbors die veld verlaat het. Merensky Landbou Akademie se eerstespan het uitstekende hardlooprugby gespeel, en hul verdediging was ‘n ondeurdringbare blou muur. Hulle stuur Dr. Malan met 64-5 terug kleedkamer toe. Ulrich Maré gaan kuier drie keer agter die pale.

Hardus Terblanche druk twee drieë. Ruan Marcos, Tirelo Mashapa, Zander Heydenrych, Clifford Ledwaba en Caleb Mokgalaotse het ook elkeen vyf punte aangeteken. Byron Hendricks het met sewe verdoelskoppe geslaag. Die volgende ligawedstryde op Plasiepark word Saterdag teen Hoër Volkskool Potchefstroom gespeel.

Related Articles

Back to top button