Sien ‘Kaptein Fantasties’ en die Letaba manne teen Musina dié naweek

Die manne van Letaba Rugbyklub sal Saterdag op hulle tuisveld in aksie wees teen die spanne van Musina.

Die tweedespan sal om 16:00 afskop en die eerstespan sal 17:30 begin speel. Die Herald het met Carel O’Neil, die eerstespankaptein en skopvoet gesels voor hierdie kragmeting. Die bloubessieboer van Tzaneen is bekend as ‘Kaptein Fantasties’ en is al vir vier seisoene die manne van Letaba se leier op die veld. Hy draf al agt jaar uit vir Letaba op heelagter en is ook gereeld vir die klubspan, Duka in aksie. Carel is ‘n gekwalifiseerde professionele jagter en het landboubestuur deur die pos studeer.

Carel O’Neil praat met Letaba rugbyklub se spelers na verlede jaar se Oumanne vs Jongmanne wedstryd.

Hy geniet dit om te jag en te braai, veral saam met sy spanmaats. Hy en sy vrou, Amor het ‘n seun, Dian. Op skool het hy vir die o/19 Akademieweekspan uitgedraf en ook saam met die Suid-Afrikaanse Bokkiessewespan na Kenia getoer. “Ek hou van klubrugby want dit is vir my ‘n manier om weg te kom van die besige lewe en is ook tyd waarin ek iets kan doen waarvan ek hou. Dit is ‘n bekostigbare sport,” vertel hy.

Lees ook: Historic win for Madrid

Van die hoogtepunte in sy rugbyloopbaan sluit in toe hy deel was van die span wat in Namibië in 2019 ‘n sewestoernooi gewen het en drie toere saam met Duka na Maleisië – in 2016, 2017 en 2018. “Daardie rugby het my geleer om nie bang te wees nie. Ons het teen massiewe Fijiane gespeel. Die eerste jaar het ons lekker rugby in die modder gespeel, want dit het elke dag gereën,” vertel Carel. Hy het ook al vyf keer vir Duka uitgedraf in die Kaapstad tienmantoernooi.

Carel sê dit verg ondersteuning en harde werk om klubrugby te speel, “maar dit is alles die moeite werd en dit is ‘n lekker gevoel om saam met vreemde ouens te begin speel en later die seisoen braai julle elke Woensdag saam en het mens goeie vriende gemaak”. Hy sê ook dat die ouens dit nie moet oordink of hulle moet speel, al dan nie. “Sluit aan. Kom speel vir ‘n week of twee saam met ons en kyk of jy nog van rugby hou,” sê hy. Persone wat belang stel om aan te sluit by Letaba Rugbyklub of wat wil kom saam oefen onder afrigter Johan Bannink, kan vir Carel skakel by 079 693 2292.

Exit mobile version