Lees en kyk: Klubrugby kraai koning by James Tolmay Dag in Tzaneen

Letaba-rugbyklub het Saterdag gesorg vir ‘n fees van klubrugby tydens die James Tolmayrugbydag. Naby aan ‘n duisend toeskouers en spelers het die aksie op die veld geniet en die seisoen lyk belowend vir Letaba se eerstespan wat hulle vriendskaplike wedstryd teen Kruinies se eksperimentele eerstespan oortuigend gewen het.

In die openingswedstryd van die dag het die Letaba Oumanne met Louis Trichardt se derdespan afgereken. Gideon Labuschagne, Dirkie Coetzee, Johan van der Westhuizen, Bennie van Zyl en Bernard van der Schyff het elkeen agter Louis Trichardt se doellyn gaan kuier. Labuschagne het ook twee drieë suksesvol verdoel en Willem Snyman het twee drieë gedruk vir die Oumanne. Toe die eindfluitjie blaas is dit die Oumanne wat met 39-0 seëvier.

Die span van Nkowankowarugbyklub het teen Louis Trichardt se tweedespan te staan gekom en die manne van Louis Trichardt het die wedstryd oortuigend gewen. Letaba se eerstespan het vroeg in die wedstryd gesorg dat daar punte op die telbord is toe een van Kruinies se spelers van die veld af is met ‘n geel kaart. Dit was ‘n harde wedstryd, maar Letaba het gesorg vir mooi hardloop rugby en het die wedstryd met 27-12 beklink. Spankaptein, Carel O’Neill, het 12 punte aangeteken.

Lees ook: Experience the vibe on the sidelines of the James Tolmay Rugby Day

Hy het vroeg Letaba se eerste drie gedruk, ‘n strafskop en twee verdoelskoppe tussen die pale deurgejaag. Christo Lombard, Johan Scheepers en Zian van der Heever druk elkeen vir Letaba ‘n drie en Tian Knoetze verdoel twee drieë. Bennie Kruger van Letabarugbyklub doen ‘n beroep op die jong manne in die dorp om saam met die eerstespan en die Oumanne (derdespan) te kom oefen. “Ons het baie jong manne op die dorp wat goed kan rugby speel en twee toprugbyskole in die omgewing. “Tog sukkel Letaba-rugbyklub om ‘n tweede span vol te maak,” sê Kruger.

Volgens Kruger hoop die klub om hulle wendroogte te breek vanjaar. Letaba sal vyf tuiswedstryde en vyf wegwedstryde speel. Kruger beklemtoon dat hulle veral voorspelers kort en nog spelers benodig om twee spanne in die ligawedstryde te laat uitdraf. “Johan Bannick help tans met die afrigting by die klub en hy het ‘n passie vir die spel en ‘n ferm hand. “Ons klub se fondse kom van lemoenboere wat lemoene verskaf wat ons verkoop vir sapproduksie. “Hiervoor is ons baie dankbaar siende dat dit die spelers se reiskostes dek vir die jaar,” verduidelik Kruger.

Spelers wat belang stel om vir Letaba rugby te speel kan Kruger skakel op 083 635 1731. Die manne oefen Dinsdae en Donderdae van 18:00 tot 19:30. Vroue, kinders en spelers se vriendinne is welkom by oefeninge en koffie en kos is ook by Bosbokrestaurant beskikbaar.

 

Exit mobile version