Local sportSport

Groot rugby dié naweek in Tzaneen

Rugby uit die boonste rakke word Saterdag hier op Tzaneen verwag wanneer Letaba teen die voorlopers in die liga, die Northam Rhinos, te staan gaan kom.

Northam is ook die verdedigende kampioene en dit gaan beslis Letaba se grootste toets tot dusver die seisoen wees. Die derdespan speel om 2-uur ‘n vriendskaplike wedstryd terwyl die tweeds om 3-uur opdraf en die eerstespan om 5-uur.

Toegang is gratis en inwoners word vriendelik genooi om na mooi rugby te gaan kyk en ons plaalsike manne te ondersteun. Die afgelope naweek het Letaba teen die Universiteit Limpopo op Mankweng te staan gekom en twee baie groot oorwinnings behaal.

Die eerstespan wen 99-5 met vleuel Henke Niemandt een van die groot uitblinkers met drie drieë agter sy naam.

Skrumskakel JC Swart en slot Marco van de Venter het elk twee keer agter die student se doellyn gaan kuier terwyl losskakel JP Vermeulen 12 van die 15 drieë verdoel het.

Die tweedespan het ook amok gemaak en 12 drieë gedruk en wen 76-3. Vleuel Adam kader, senter Nyiko Ntombondo en heelagter Percy Mabitsela het elk twee drieë gedruk terwyl losskakel Tony Manamela 8 van die 12 drieë verdoel het.

Eerskomende Saterdag se wedstryde teen Northam gaan egter ‘n perd van ‘n ander kleur wees en die Groenbulle gaan almal se ondersteuning nodig hê om hul man teen die kampioene te staan. Sien julle daar!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button