James Tolmay Rugbydag dié Saterdag op eie bodem

Eerskomede Saterdag wil jy langs die rugbyveld by die skougronde sit, want dit beloof om 'n fees vir die oog te wees.

Daar word met groot verwagting uitgesien na die James Tolmay Rugbydag wat Saterdag op eie bodem gaan plaasvind by die skougronde wat deur die Letaba Rugbyklub aangebied word.

James Tolmay was vir dekades aktief by rugby in die Tzaneen omgewing.

Hy het groot geword in die omgewing, en het vir Tzaneen Rugbyklub gespeel tussen 1960 en 1970. In 1967 het hy, amper op eie stoom, Letsitele Rugbyklub begin by die velde van Laerskool Dr. Annecke.

Die klub het later geskuif, en sy naam verander na Letaba Rugbyklub. James was betrokke by LCP en het meeste van die werk by die ou Letabaveld in Letsitele self verrig. In die laat sewentigs en vroeë tagtigs het James diens gedoen as Vise-President by Verre Noord Rugby; gedurende hierdie tyd het hy ook die Verre Noord span afgerig en het talle kere as spanbestuurder diens gedoen.

Lees: Letaba Rugby 7’s span sê dankie

Hy was ook later as Voorsitter van die Noord Streek verkies. James Tolmay, oftewel “Lemoenkop”, was ‘n eersteklas rugbyspeurder. Hy het, as Klubkaptein, nuwe potensiële spelers in die omgewing uitgesnuffel en gewerf vir Letaba Rugbyklub. Sy groen Mercedes is telkemale opgemerk by nuwe intrekkers in die dorp.

By oefeninge het hy met sy klein swart boekie gestaan, en almal se name neergeskryf. En as jy Dinsdagaand nie by die oefening was nie, was hy Woensdagoggend vroeg by jou werk!

Lees: Letaba Rugbyklub vereer legendes

Hy het spelers op die hande gedra – as daar rugbystewels te kort was, het Oom James gereël. En natuurlik is die familie ook ingespan; sy staatmaker vrou en later sy dogters moes bontstaan om drie spanne se truie skoon te kry en heel te hou.

Toe Letaba en Tzaneen rugbyklubs saam gesmelt het en gevestig is in Tzaneen by die skougronde, het James se Letaba Rugby naambord saamgekom. Dit pryk nou op die walle van dieselfde rivier waar dit oorspronklik geskep is; natuurlik net effe stroom-op. James Tolmay was ‘n rugby-ikoon van die laeveld, en dit is Letaba Rugby se voorrreg om die James Tolmay Rugbydag in 2018 in te stel. Die hoop word uitgespreek dat dit ‘n jaarlikse instelling sal word.

Die program vir die rugby dag sien soos volg daarna uit:

14:00: Letaba 2 vs. Louis Trichardt

15:20: Noordelikes 2 vs. Ohrigstad

16:40: Kruinies vs. Hoedspruit

18:00: Letaba 1 vs. Noordelikes 1

Almal word uitgenooi om ‘n dag van super rugby op eie bodem te gaan ondersteun.

Exit mobile version