Jane is wêreld se beste hael-skut

Jane van Wyk het in Desember haar merk gemaak by die haelgeweer-wêreldkampioenskap in Thailand en het Phalaborwa, Limpopo en Suid-Afrika se naam hoog gehou by die byeenkoms.

Sy is as die kampioen gekroon na sy op 30 bane oor vyf dae geskiet het. Die Internasionale Praktiese Skietraad (IPSR) bied elke drie jaar ‘n praktiese haelgeweerwêreldkampioenskap aan. “Die kompetisie bestaan uit skietoefeninge waar die skut plate en kleie moet skiet op voorafopgestelde bane. “Die skut se punte word beide deur tyd en telling bepaal.

Dus moet jy so vinnig en akkuraat moontlik op die baan skiet,” verduidelik Van Wyk. Sy vertel dat sy aan drie keuringskompetisies in SuidAfrika deelgeneem het en dat sy op grond van dié prestasie na die wêreldkampioenskap genooi is. “Die realiteit het my getref toe ek opgeroep is na die verhoog om die medaljes en trofee te ontvang.

Na die ontvangs van die medaljes het die volkslied begin speel en die hele SA span met hul groen baadjies aan het onder by die verhoog kom staan en die lied uit volle bors gesing. Ek het afgekyk na hul en moes keer of die trane loop,” vertel sy. “Die besef dat ek deel is van van iets baie groter as ekself het my oorweldig.

Lees ook: Archery keeps pulling 19-year-old girl back in

Om deel te wees van ‘n ongelooflike SA span en te presteer vir ons land, ons mense en ons gemeenskap hier op Phalaborwa, was vir my ‘n hoogtepunt,” sê sy. Sy sê dit voel onwerklik oom ‘n wêreldkampioenskut te wees. “Dit gee mens tog meer selfvertroue en die besef dat ‘n mens tot meer in staat is as wat mens dink.

Ek hoop dit inspireer elke persoon om die beste te wees wat jy kan.” Van Wyk sien ook uit daarna om vanjaar aan die nasionale geweerkampioenskap deel te neem en beoog om in Junie keuring te kry vir die ‘PistolCalibre Carbine’ (PCC)- wêreldkampioenskap wat in 2025 in die Tsjeggiese Republiek sal plaasvind. Sy het haar man en afrigter, Sakkie, asook haar dogters, Jessica en Jenique, bedank vir hulle ondersteuning.

“Sakkie is my inspirasie, hy motiveer my en glo in my. Die tye wat ek moedeloos was indien ek sekere oefeninge nie kon bemeester nie, het hy my gemotiveer en laat oefen totdat ek die nodige selfvertroue het. “Daar gaan baie tyd in oefening in so my dogters, Jessica en Jenique, ondersteun ons baie en hou die huis en honde aan die gang wanneer ons weg is.

“Dan ook ons vriende, familie, kollegas en die skietgemeenskap. Gesondheid en talent is ‘n genade van Bo, sonder ons Hemelse Vader is ons niks, al die eer aan Hom,” sê sy

Exit mobile version