Ruiter is Suid-Afrikaanse kampione

Azél Vorster is as die 1.3m individuele jeugskouspringkampioen aangewys na sy en haar warmbloed merrie, Callaho Verdi Vici aan die Western Shoppe Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskapppe deelgeneem het van 28 Junie tot 2 Julie.

Vorster is ‘n leerder van Hoërskool Ben Vorster en het vanjaar skoonskip gemaak tydens die prestige-kompetisie wat by die Kyalami Equestrian Park in Midrand plaasgevind het. “Vici is die perd van my drome en ek kon nie vir ‘n beter spanmaat vra nie,” sê Vorster. Sy en Vici kompeteer reeds vier jaar saam, maar Vorster spring alreeds vir elf jaar kompeterend.

“Ek het begin met rylesse toe ek vier jaar oud was en ek het al op sesjarige ouderdom my pa gesmeek vir my eerste perdjie,” vertel Vorster. Haar afrigter, Shirley Scriven, is self ‘n uitstekende ruiter wat in haar skouspringloopbaan in die negentigerjare die SA Derby gewen het, een van die mees gesogte titels in skouspring. “Die pad na die jeugkampioenskappe het baie ure se voorbereiding en oefening geverg.

Lees ook: Merensky riders in action at Bela-Bela games

Slegs twee ruiters van Limpopo is gekies om in die 1.3m-kategorie deel te neem. Skoupring verg baie tegniese vaardighede en dit is altyd moeilik om op ‘n nasionale vlak te kompeteer,” sê Vorster. Na twee dae se kwalifiserende rondes het 21 van die 32 ruiters gekwalifiseer vir die kampioenskapklas. Vorster vertel dat die kampioenskapklas uit twee rondes bestaan en dat elke ruiter wat ‘n skoon ronde spring deurdring na die tweede ronde, die ‘jumpoff’, waar spronge uit die vorige ronde teen tyd gedoen word.

“Ons was slegs agt ruiters wat deurgedring het na die ‘jumpoff’ en ek was derde laaste op die lys, maar almal wat voor my gespring het, het pale afgestamp. “My ma, Anneri, bel toe my perd se versorger, Charles, wat saam met my in die opwarmarena was en sê vir hom om vir my te sê dat ek net rustig moet ry en skoon spronge maak, siende dat die res reeds beboet is vir die pale wat afgestamp is. Dit was nie vir my ‘n opsie nie.

Ek het besluit om ‘n alles-of-niks kans te vat en om die beste tyd op die bord te sit,” vertel Vorster. “Dit was die moeite werd toe ek hoor die afkondiger sê dat ek en Vici die voortou geneem het,” sê sy. “Hierdie skou was defnitief een van die hoogtepunte in my skouspringloopbaan en ‘n ervaring van blydskap, adrenalien, dankbaarheid en genade wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Vorster.

Sy bedank haar ouers vir al die ure wat hulle langs die arena deurbring om haar te ondersteun en die honderde kilometers wat hulle haar en Vici aanry vir oefeninge en skoue. Sy bedank ook graag haar afrigter, Shirley Scriven vir elke les en haar Hemelse Vader vir die talent en liefde vir perde en die voorreg om dit uit te leef.

Exit mobile version