Sport

Soete oorwinning vir Pumbas

Die Bosveld Pumbasrugbyklub se eerstespan het Saterdag teen hulle eweknieë van Malelane hulle laaste vriendskaplike opwarmingswedstryd van die seisoen gespeel.

Die Pumbas het goed begin en niks minder as vyf drieë in die wedstryd gedruk. Die losskakel, Erich Ackermann het eerste vir die Pumbas agter die doellyn gaan kuier om ‘n drie te druk. Diaan Donson het daarna deurgebreek vir die Pumbas se tweede drie. Stut, Dieter Meyer,
het gesorg vir nog vyf punte op die telbord.

Paul Buys en die slot, Rudolf von Ablon het ook elkeen ‘n drie vir die Pumbas gedruk. Die span het wel klei getrap met die skopskoen en slegs twee van die vyf drieë is suksesvol verdoel, een deur Ethan Gows en die ander deur Ackermann. Skrumskakel, Matthew Miller
en flank, Paul Buys is aangewys as die spelers van die wedstryd.

Also read: Bosveld Pumbas wen 29-26 in naelbytstryd teen Letaba

Die Pumbas skop hulle eerste liga-wedstryd af om 14:30 op 7 Mei by Drakensig se rugbyvelde. Toeskouers is welkom. Die Bosveld Pumbasrugbyklub bied ook ‘n aand se vermaak aan wanneer Ivan Roux Saterdag, 30 April kom optree. Kaartjies kos R150 vir 15-jariges en ouer, R100 vir kinders 10 tot 14-jaar oud. Kinders onder 10 jaar oud kan gratis toegang kry. ‘n Tafel van 10 kos R3000 en BBP-kaartjies
word ook verkoop vir die vertoning.

Die hekke maak om 17:00 oop en die doel is om vir die Bosveld Pumbas-rugbyklub fondse in te samel. Skakel die voorsitter van die klub, Romeo Jones op 083 439 2466, of die afrigter, Naas du Plessis op 083 393 1025 vir kaartjies en meer inligting.

Related Articles

Back to top button