Steenkamp slaan sewe houe onder baan by Tzaneen Ope

Die Tzaneen Ope het Saterdag en Sondag by die Tzaneen Gholfklub plaasgevind en meer as 120 spelers het die baan aangedurf.

Luan Steenkamp het die Ope gewen na twee dae se uitstekende spel. Hy het in die eerste rondte ses voëltjies in totaal aangeteken en die eerste dag se spel met vier houe onder baansyfer beklink. Steenkamp het op gaatjies 10-14 agtereenvolgende voëltjies aangeteken en baansyfer op die laaste vier gaatjies behaal.

Sondag het Steenkamp se spelpeil egter net verder verbeter en het hy ‘n byna foutlose dag gehad op die baan en het slegs op die 15de gaatjie een hou bo baansyfer aangeteken. Hy teken ‘n verdere vyf voëltjies aan op die vierde, vyfde, agtste, elfde en twaalfde gaatjies en sluit die toernooi af met sewe onder baansyfer.

Hy speel ‘n totaal van 137 houe. “In my dae as bestuurder hier by Tzaneen Gholfklub het ek nog nie so ‘n rondte gesien nie, dit was een van die beter rondtes gholf wat al hier gespeel is,” verduidelik HJ van Jaarsveld wat ook die baanopsigter is. In ‘n onderhoud met die Herald vertel Steenkamp dat hy in 2010 in sy skoolloopbaan nasionale klere in gholf verwerf het.

Also read: Boere in Politsi takel kragkrisis

“Ek het ongelukkig my elmboog gebreek in matriek en nou is gholf vir my pure passie,” vertel Steenkamp. Louis Erasmus van Tzaneen Gholfklub vat die algehele tweedeplek met twee houe bo baansyfer. Erasmus verbeter sy posisie van sesdeplek op die eerste dag met vier houe bo baansyfer na algehele tweedeplek deur ook ses voëltjies in te palm Sondag.

PJ van der Berg is die nett wenner van die o/13 junior seunsafdeling.

In die B-divisie vat André Fourie van Tzaneen Gholfklub die eersteplek met 168 houe. Sizwe Mbili van Polokwane Gholfklub en Naphtaly Sedibe van Tzaneen Gholfklub vat die tweede- en derdeplek, onderskeidelik. Willem Engelbrecht en Riaan du Plessis wen Saterdag die pryse vir naaste-aan-diepen op gaatjies 2 en 13, onderskeidelik.

Jack Stewart en Dion Nell wen Sondag die naaste-aan-die-pen pryse op gaatjies 6 en 18, omderskeidelik. In die junior afdeling het PJ van der Berg van Tzaneen Gholfklub die nett eersteplek ingeneem in die o/13 junior mansafdeling.

Adriaan de Beer van Kameeldoring Gholfklub vat die tweedeplek en Reinhardt Geldenhuys van Tzaneen Golfklub vat die derdeplek. Die Tzaneen Gholfklub bedank graag die ope se hoofborg, Komatiland en ook Spur wat die kos gedeeltelik geborg het.

Exit mobile version