LettersOpinion

“Hoe beroof ‘n mens Hoedspruit van so ‘n siel?”

“Ek kan dit nog steeds nie glo nie. Oom Christo Redelinghuys kan nie dood wees nie. Iemand kon hom nie vermoor het nie. Nee, nie hy nie.

‘N Oud-inwoner, Helene Eloff, het op die Laevelder se webtuiste die volgende huldeblyk van Christo Redelinghuys geplaas:

“Ek kan dit nog steeds nie glo nie. Oom Christo Redelinghuys kan nie dood wees nie. Iemand kon hom nie vermoor het nie. Nee, nie hy nie. As joernalis kry ek daagliks met misdaad, moord en doodslag te doen.

Dit het iets alledaags geword.

Tot vanoggend.

Toe ek die nuus op Facebook sien, het dood se angel die asem uit my longe geruk.

Lees: HOEDSPRUIT: Bekende boer op sy plaas vermoor

‘n Deel van my grootword dorp, Hoedspruit, se siel is van ons af weggeneem. Onmiddelik het ek met ander oud-Hoedspruiters kontak gemaak.

Oom Christo was ‘n gerespekteerde en geliefde boer.

Almal was dit eens: “As daar een deel van Hoedspruit is wat lewenslank in my gedagtes sal bly lê, is dit Oom Christo langs die sportveld,” het een gesê.

“As ek aan oom Christo dink… dink ek aan hoe hy op laerskool langs ons sportvelde gestaan het en sy kinders ondersteun het.

Ek dink hy was altyd ons sportspanne se grootste ondersteuner wat die hardste kon skree! Hy was ‘n goeie mens,” het Mariska Slabbert onthou.

Bianca MacRitchie het in 2007 by die Redelinghuyse tuisgegaan nadat haar pa gesterf het en sy sonder heenkome was. “Julle het vir my die wêreld en meer gegee,” het sy op Facebook geskryf.

Dit was Oom Christo wat my luidkeels langs die landlooproete sou aanpor, al was ek heel laaste. Hy het my – die agteros – met dieselfde entoesiasme ondersteun as vir die topatlete. Dit was Oom Christo wat altyd by die kerkbasaars doenig was, op wie ‘n mens altyd kon reken.

Hy en Tannie Retha se teenwoordigheid kon enige geleentheid in ‘n fees omskep. As die pa van vier dogters was hy ‘n staatmaker. Hester, Christina, Retha en Louise was al van ons laerskooldae af sterk, gemotiveerde dogters wat hul merk gemaak het.

Die vier het met ongelooflike selfvertroue opgetree. Oom Christo het hulle laat verstaan dat hulle enigiets kon vermag.

Daardie selfde waarheid het hy by my ingeprent.

Die mans wat vir sy dood verantwoordelik was sal nooit verstaan tot watter mate hulle Hoedspruit en sy mense besteel het nie.

Daar is nie nog iemand soos Oom Christo nie. Hoe verwerk ‘n mens die skielike afwesigheid van so ‘n groot gees? Ek weet nie hoe nie. Ek is kwaad en hartseer en biddend.

Ek bid vir Tannie Retha en die dogters.

Here, ons weet ons is nie van die wêreld nie. Dankie daarvoor. Dankie, Here, dat ons weet daar is ‘n Hemel. Dankie, Here, dat Oom Christo reeds U vrede ervaar.

Verbind tog die rouende, seer harte wat nog hier op aarde vir U moet werskaf voordat hulle by Oom Christo kan aansluit. Gee ons tog waagmoed, hoop en krag, Vader. Amen.”

Sy roudiens sal vandag, 25 November (Saterdag) om 10:00 vanuit die Van Rensburg saal in Hoedspruit plaasvind.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button