LettersOpinion

BDM, die diesel familie

Die Herald het verlede week by BDM Diesel 'n draai gaan maak.

Die Herald het by BDM Diesel in die ou industriële gebied ‘n draai gaan maak.

Ek kry vir Gerrit du Toit in sy werkswinkel waar hy self besig is om die laaste verstellings aan ‘n dieselpomp te doen.

Hy beduie dat ek moet sit, maar dat hy net eers moet klaarmaak. Ek haal my kamera uit en begin solank foto’s neem.

“Jy moet maar skryf daar, ons is al lank in hierdie dorp. Die besigheid word 53 hierdie jaar,” sê hy met een oog op die pomp terwyl hy onderlangs na my loer.

Gerrit se oorlede pa, Terrence du Toit, het hom in November 1963 hier in Tzaneen kom vestig en die besigheid begin.

Gerrit self, het saam met sy broer, Willem in 1988 begin betrokke raak. Willem het intussen die land verlaat en woon nou in Australië.

Vandag is eienaar Gerrit en sy dogter, Lelani Otto, ‘n gedugte bestuurspan wat geen tree terug staan vir werk nie.

Beide Gerrit en Lelani is opregte produkte van Tzaneen.

Oud Larries, toe Vossies en nou as lede van die sakegemeenskap, doen hulle hul deel om ons dorp aan die gang te hou.

Gerrit het die besigheid in 2009 by sy pa gekoop en hoewel Terrence die volgende jaar oorlede is, hardloop die alledaagse sake steeds op die goeie besigheidsbeginsels wat hy net meer as ‘n halfeeu gelede gevestig het.

En die volgende geslag?

Lelani sit reeds reg om soomloos oor te neem wanneer pa Gerrit die dag sy werkskoene uitskop.

Volgens Gerrit hoef hul klante nie te dink dit gaan sommer oornag gebeur nie.

Hy het nog ‘n goeie paar klio’s in die tenk voor hy langs die Letabarivier uitspan en sy gastehuis gaan bestuur in sy goue jare.

Lelani staan reeds in vir Gerrit wanneer hy nie op die perseel is nie.

“Sy is beslis nie bang vir werk nie en regeer die besigheid met ‘n ysterhand as ek nie hier is nie,” het Gerrit aan die Herald gesê.

Lelani kom nader vir ‘n geselsie en ek kan gou sien die passie vir die besigheid lê vlak onder die vel.

Wat hou die toekoms vir hulle in? Lelani kyk na haar pa en antwoord: “Ons moet tred hou met nuwe tegnologie, dus sal sommige nuwe masjiene aangekoop moet word, maar ons sal nooit soveel uitbrei dat dit ons persoonlike verhouding met ons klante in gevaar bring nie.” Volgens Gerrit en Lelani is hulle mark wyd gesprei.

Van die eienaar van die kleinste dieselbakkie tot die tamatie manne van ZZ2 tel onder hulle getroue en jarelange kliënte.

ZZ2 byvoorbeeld, doen al 50 jaar lank besigheid met hulle.

BDM Diesel se span bestaan uit Gerrit, Lelani, Dicky Botes, Jan Barkhuizen, Amy Visser, Simon Moropene en Rufius Ratlaba.

Mens kan gewoonlik ook vinnig ‘n gevoel vir ‘n besigheid kry as jy kyk hoe lank die werknemers reeds daar werksaam is.

By BDM skuil daar ook geen verrassings hier nie.

Buiten eienaar Gerrit, wat net kort van ‘n ewigheid op die perseel is, is werkswinkel bestuurder Dicky Botes al sedert 1991 daar.

So ook, is Simon Moropene al ‘n lid van die BDM gesin sedert 1986 en Rufius Ratlaba sedert 1997.

Dogter Lelani, Jan Barkhuizen en Amy Visser het almal omtrent ‘n jaar gelede by BDM Diesel aangesluit.

Dienste wat hulle bied is meestal die herstel van diesel- en petrolpompe sowel as turbos.

Hulle hande staan vir min verkeerd, maar wat hulle nie kan herstel nie, kan egter steeds deur hulle aangekoop word.

Die Herald wens, saam met die res van Tzaneen, hierdie uitnemende besigheid geluk met hul komende verjaardag.

Mense wat hulle wil bereik is welkom om BDM Diesel direk by (015) 307 3774 te skakel.

Related Articles

Back to top button