R10 ‘n groot beloning

In-my-noppies van Tzaneen, skryf:

Ek woon en werk in Tzaneen en dis nie noodwendig elke dag dat ek die geleentheid kry om liries te raak oor goeie diens of gawe behandeling wat ek by ons dorp se besighede ontvang het nie. Ek en my getroue bromponie is ou en gereelde kliënte by die Sasol vulstasie langs Sugarloaf. Ek is ook nie skaam om fooitjies uit te deel nie en my beloning hiervoor is altyd breë glimlagte en flinke diens.

Verlede week het ek egter ‘n ietsie ekstra gekry. Ek was amper laat vir werk die oggend en het op pad besef my petrol gaan dit nie maak nie. Erger nog, het ek my beursie tuis vergeet. Dankie tog ek het ‘n los R10 vir noodgevalle onder my sitplek gehou. Ek trek in by die vulstasie en vra verleë een van die petroljoggies wat my altyd help om net R10 se petrol in te gooi.

Die man het breed geglimlag en my tenk oopgesluit. Die volgende oomblik sien ek hoe die syfers op die pomp verby R10 hardloop en toe ek hom wil keer lag hy: “Nee man, die ander R10 is op my.” R10 is vir baie mense nie regtig ‘n reuse bedrag geld nie, maar vir my as jong werkende, wat elke sent moet tel om te oorleef, was dit daardie dag presies wat ek nodig gehad het.

By die kantoor gekom lees ek aanlyn oor die rasse-spanning wat by die dag in ons land net erger word en ek dink aan die naamlose joggie wat sy R10 by myne gevoeg het en niks in ruil daarvoor verwag het nie.

Miskien, wanneer ons verby ons veldiepte kleure begin kyk en meer bereid raak om mekaar met daai ekstra R10 te help, sal ons ou landjie weer eendag ‘n veilige en gelukkige plek wees.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version