LettersOpinion

Geluk hang van ons self af

Hendrik Hancke van Tzaneen, skryf:

Ja toe wen ek gister weer nie die Lotto nie.
Ek het al die pad Shoprite sentrum toe gery.
Soos die sucker wat ek is, het ek ewe gedwee die ander suckers in die ry voor die Lotto toonbank loop join.
Of sal ek eerder sê staan join. My kaartjie eindelik veilig in my hempsak, is ek huis toe.
Daar gekom, het ek ingedagte deur die gewone aand rituele gestrompel.
Gedurig aan’t dink in die agterkop: Hoekom is ek nie gelukkig nie. Kom nou man, nie DAAI soort geluk nie. Nie die soort waarvan jy in vrouetydskrifte lees nie.
Die soort van casinos en hole in one’s. Van lucky escapes en rekordkoedoe-kolskote, teen die wind en oor ‘n rivier.
Vandag is ek, soos elke ander dag, vroeg op pad werk toe. Op kantoor was dit een van daai stadige dae, waar die onus op jou rus om self werk te genereer.
Jy moet dus werk om werk te kry voor jy kan werk.
As jy nog met my is? Om dit sagkens te stel, was dit een van daai dae waar tyd stadig jou senings rou kou.
Tot net sulke wit stukkies tussen die rou uitslaan. Vroeg al het ‘n vlieg sy verskyning gemaak. Kort-kort sien ek so uit die hoek van my oog, hoe een van my kollegas hom vies en geïrriteerd voor sy
gesig wegwaai.
Kort voor lank is dit my beurt. Zzzzzoem in sulke dronk gebreekte sirkels voor en om my gesig.
Ek waai halfhartig en ingedagte in sy rigting en gaan aan met my werk.
So sleep-tik die tyd toe maar aan. Werk wat werk is om te soek en die vlieg wat beurte maak om sy irritasie dansie voor almal op kantoor te gaan doen. Deur dit alles bly ek kort-kort dink aan hoe geluk werk. Ek sit en wonder oor dinge soos Amla se byna magiese beurt destyds teen die Engelse.
Sy 311* is steeds die hoogste telling ooit deur ‘n Suid-Afrikaner in toetse en sal in alle waarskynlikheid nog lank so bly.
Dit kon egter sooo maklik so baie anders gewees het.
Vra maar vir Andrew Strauss wat Amla daai eerste dag op 40* laat val het. 271 lopies later het Hashim onoorwonne onder applous van ‘n beteuterde en vernielde Engelse span van die veld gestap.
Skielik zzzzzzoem die vlieg deur my gedagtes en voor my verby. Amper instinktief klap ek met altwee hande voor my op die tafel. “%#*@% vlieg!”
Dan sien ek dit.
Die vlieg lê dood waar my regter hand die tafel getref het. Een perfekte sekonde kan ‘n hele dag verander.
En met dit besef ek, ons maak ons eie geluk. Ek spring op en is met ‘n huppel in my stap by die kantoor uit om nog moontlike werk te gaan opvolg. Hoe lucky is ek?

Related Articles

Back to top button