Honde ‘n groot steurnis

Gert Potgieter skryf: Ek kan die brief in alle eerlikheid met uiters gekruide taalgebruik skryf, maar omrede dit ‘n gemeenskapskoerant is sal ek dit die lesers spaar. As dit die redakteur van die Letaba Herald se goedkeuring wegdra, vergun my net een woord om my misnoë uit te spreek oor inwoners se troeteldiere in Premierpark. …

Gert Potgieter skryf:

Ek kan die brief in alle eerlikheid met uiters gekruide taalgebruik skryf, maar omrede dit ‘n gemeenskapskoerant is sal ek dit die lesers spaar.

As dit die redakteur van die Letaba Herald se goedkeuring wegdra, vergun my net een woord om my misnoë uit te spreek oor inwoners se troeteldiere in Premierpark.

Ek is ‘Gat-vol’. En ek dink baie inwoners, en bure wat in die buurt woon voel dieselfde.

Dit is ‘n gekêf en geblaf die hele dag en nag deur.

Ja, honde blaf en dit is aanvaarbaar, dit is in hulle natuur, ja so waarsku hulle ons van moontlike oortreders, maar wragtig, ‘n geblaf die hele dag en nag, nee wat!

Persele se hekke word nie toegemaak nie, of gapings wat nie klein genoeg is om klein brakke in te hou nie word nie met draad toegemaak nie.

Dit baljaar van die honde, en dat een nog nie doodgery is nie is ‘n wonderwerk.

Menige van my vriende wat in ander woonbuurte woon, voel dieselfde. Daar word nie gehoor gegee aan die aantal honde wat ‘n diereliefhebber mag aanhou nie. Die grootte van die tuin om diere aan te hou is ook ‘n deurslaggewende faktor wat in ag geneem moet word.

Wat dit nog erger maak, is dat daar Sondag oggend ‘n hond so tekere gegaan het, en kon ek aflei dat die hond in ‘n huis toegemaak was, en dat sy eienaars seker kerk toe gegaan het.

Dis onbedagsaam teenoor die bure, en onregverdig teenoor die hond.

Ek sal nie ophou ‘blaf’ oor hierdie probleem nie, en ek hoop die DBV neem kennis hiervan.

My gevoel is heel eenvoudig: Moet jou nie soos ‘n ‘pavement special’ brak gedra nie, wees bedagsaam teenoor jou bure. ‘n Geblaf en gekêf die hele dag en nag deur laat my nie tango nie.

Wonder hoe voel ander inwoners hieroor!

Exit mobile version