Local news

Modjadjiskloof-vrou lei lewerbewusmaking na eie hartseer

Alta Grobler, ‘n inwoner van Modjadjiskloof, lei bewusmakingsveldtogte aanlyn en in persoon nadat haar man, Willem, vir elf jaar ‘n stryd teen lewersiekte gevoer het voordat hy verlede jaar oorlede is.

Sedertien het Grobler op aanbeveling van die spesialis wat haar man behandel het met lewergesondheidbewusmaking in haar eie gemeenskap begin. Sy het ‘n Facebookblad, Love your Liver, begin en ook haar talente ingespan om bewusmaking te skep. “Ek skilder skilderye vir die lewerkliniek waar hy behandel is. “Dit was eers net ‘n skildery vir die spesialis en toe nog ‘n skildery vir die hoofuitvoerendebeampte. Uiteindelik het ek verskeie skilderye vir dié hospitaal geskilder, onder andere prettige kunswerke vir die kinderoorplantingseenheid,” vertel sy.

Na sy haar man verloor het, het sy deur skilder ‘n manier gevind om haar hartseer te verwerk. Sy verf blomme, veral magnolias, en dié kunswerke is te koop by Glimmer Shimmer op Tzaneen en by Grobler self. Die werke kan ook op haar Facebookblad, Me Time Artworks, besigtig word. “Ek beplan om die geld wat deur die skilderye se verkoop ingesamel word, te skenk aan die lewerkliniek waar my man uitstekende sorg ontvang het,” sê sy. Sy het ook die laaste jaar ‘n paar Pallets and Plateskunsaande aangebied en bate van die lewerkliniek.

Lees ook: 13 new cases of Bilharzia recorded in Tzaneen

Op haar Facebookblad, Love your liver, deel sy bronne, stories en inligting wat mense kan help om lewerprobleme te identifiseer en mense aan te spoor om vir hulle lewer te sorg met ‘n gesonde leefstyl. “Die lewer is die grootste orgaan in jou liggaam en het meer as 500 funksies, die regulering van bloedsuiker, produksie van hormone en filter van gifstowwe is ‘n paar van die funksies. ‘n Gesonde lewer dra by tot goeie cholesterolbalans en produseer ook gal,” verduidelik sy.

Kroniese moegheid, slapeloosheid, probleme met die vertering van vette, gereelde infeksies, sensitiwiteit vir alkohol, droë en jeukerige vel, hoë bloeddruk en abdominale pyn is alles tekens van lewersiekte.” Hoë alkoholinname, suikersiekte, oorgewig, hipertensie en hoë cholesterol is risikofaktore vir lewersiekte. “Daar word beraam dat een uit vier mense ‘n vetterige lewer het en ook so ‘n hoër risiko vir lewersiekte het,” sê sy. Om meer te leer en om Grobler se kunswerke te besigtig, skakel haar by 072 253 2348 of stuur ‘n e-pos na altagrobler123@gmail.com.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button