Haenertsburger wys unieke werke

Anton de Klerk, ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar van die Waterberg noem Magoebaskloof deesdae huis nadat hy sowat ses maande gelede daarheen verhuis het.

De Klerk is ‘n bekende by kunsgalerye in Pretoria en het sy eerste solo-uitstalling in 2015 gehou. Hy is in Bloemfontein gebore en het ‘n unieke abstrakte en ekspressionistiese styl met helder kleure en patrone. “Ek is lief vir die natuur en vind my inspirasie in die veld. Die kultuur in Limpopo en Suid-Afrika inspireer my,” vertel De Klerk.

Helder kleure is kenmerkend van Anton se kuns.

“My loopbaan het in 1989 begin toe ek my werk gelos het en besluit het om deur Europa en Amerika met ‘n rugsak te reis. Ek het vir die reise betaal deur Afrika-snuisterye en etniese juwele te maak. Ek het ook my eerste twee skilderye in daardie tyd verkoop,” vertel hy. Sy liefde vir kleur is duidelik in sy werke wat beweging resoneer en die kyker met emosie en positiewe energie laat.

Lees ook: Allesbeste bied wêreldklasboeredag op Tzaneen aan

“Ek het vir lank dekor- en juweliersware gemaak en hou veral daarvan om Afrikakultuur met Westerse tradisie te laat saampraat,” sê De Klerk. Hy gebruik verskillende media, maar hoofsaaklik ‘n kombinasie van hout, staal en akrielverf. Soms gebruik hy ook koper, ander metale en piouter wat hy op ‘n unieke manier inmeng wat tot sy meesterstukke lei.

Sy kuns herinner aan ‘n moderne lappieskombers, of mosaïekwerk, en hy gebruik patroonherhaling en perspektief om die werke ‘n etniese gevoel te gee. Sy werke word tans by My Blom Pot in Rissikstraat op Haenertsburg uitgestal. Skakel De Klerk by 079 492 4557 of besoek sy webtuiste, www. antondk.co.za, of sy Facebookblad, Anton DK, om sy werke wat tans te koop is, te besigtig,

Exit mobile version