Verwoesting vir tweede keer gesaai

Twee vure wat die afgelope naweek in Magoebaskloof verwoesting gesaai het, is vermoedelik weens brandstigting veroorsaak.

Die vure is deur die Letaba Fire Protection Association (LFPA) bestry en volgens Rouan Snyman van die LFPA, vermoed hulle die berg aan die brand gesteek is om dit makliker te maak om bloekompale te steel.”

“Met die vorige brande in Magoebaskloof het die vuur vermoedelik weens elektriese foute ontstaan,” sê Snyman. Die eerste brand in Magoebaskloof het Vrydag begin brand. “Die brand het by A44 op Rudi Viljoen se grond uitgebreek en is deur die LFPA onder beheer gebring.”

Lees ook: LFPA dispatches choppers to George’s Valley fire

“Saterdag het daar nog ‘n brand laer af naby Dieplaagte ontstaan,” sê hy. Volgens Snyman het baie inheemse woud afgebrand. “Magoebaskloof is vanjaar baie droog. ‘n Groot area het afgebrand en baie mense, onder andere ZZ2 en Diggersrest, het gehelp om die brande te bestry. Die paaie is oorgroei en steil wat dit moeilik gemaak het om by die brand uit te kom,” vertel hy.

Volgens Snyman het die vuur teen die teerpad doodgebrand. “Magoebaskloof het eintlik lanklaas gebrand, en nou in ‘n droeë jaar met lae humiditeit en sterk wind, is die risiko hoog,” verduidelik hy. Die brande het die Magoebaskloofpas, wat veral besig is oor ‘n langnaweek, gevaarliker gemaak. “Die sigbaarheid in die pas was baie swak en baie gevaarlik vir motoriste en ook vir ons wat die brande bestry.”

Lees ook: Fire currently under control

“Daar is beperkte toegang tot die vuur en oor ‘n langnaweek is daar baie motors op die pad,” sê Snyman. Daar is tans ‘n brandverbod wat van Augustus tot Oktober duur waartydens dit onwettig is om oop vure in die Letabadistrik te maak.”

“Daar word vergunnings gemaak vir die landbou- en bosbousektor asook saagmeules om onder streng voorwaardes wat ‘n permit vanaf die LFPA insluit. Die terrein moet ook eers deur die vereniging besoek word voordt daar gebrand word.”

Lees ook: Tzaneen covered in smoke as fires rage in Magoebaskloof and George’s Valley

“Siende dat die veld baie droog is en dat daar geen groot reën in die nabye toekoms voorspel word nie, is die brandrisiko baie hoog,” sê hy. Die afgelope naweek (9 tot 11 Augustus) het Working on Fire 119 vure in agt provinsies regoor die land bestry.”

‘1800 brandbestryders en 90 voertuie het die brande bestry. Hul vliegtuie en helikopters is 48 keer uitgeroep. Snyman en die LFPA moedig die publiek aan om waaksaam te wees en om veiligheidsmatreëls te volg. Enige veldbrande of vure kan na die LFPA se brandlyn gerapporteer word by 076 844 1646.

Exit mobile version