Local news

Naasteliefde gee hoop vir Tzaneense dwelmslaaf

JD Lehmann, ‘n dwelmslaaf en bekende gesig in Tzaneen se strate, is danksy die goeie werk van plaaslike weldoeners en donasies van anonieme skenkers Sondagmiddag by ‘n rehabilitasiesentrum ingeboek.

“Hy is so toegewyd. Tot ons verbasing het JD Sondagoggend al 06:00 met al sy besittings opgepak, pligsgetrou soos hy Louise belowe het, vir ons gewag nadat sy Saterdag die goeie nuus met hom gedeel het dat hy vir behandeling kan gaan,” sê Gia Basson, komiteelid van die Pathways Foundation wat gestig is om die jong man van Tzaneen te help.

“Met die hulp van Tzaneen se inwoners het ons genoeg geld ingesamel om die eerste maand van sy herstelreis te finansier. Ons is in verwondering oor die massiewe ondersteuning wat JD van ons gemeenskap ontvang het en is baie trots op hom,” sê sy. JD se pad na herstel begin by Project Purpose, ‘n leefstyl- en dwelmverslawing-herstelsentrum in Meyerton. Die Pathwaykomitee het genoeg skenkings ontvang om die eerste maand van die tweejaarprogram se kostes te dek.

Lees ook: Varsproduktemark en hotelskool op die kaarte

“In die lewe word ons almal gekonfronteer met keuses, en neem nie altyd goeie besluite nie. Eens op ‘n tyd was daar ‘n jong seuntjie wat van 12-jarige ouderdom af reeds grootmensbesluite moes neem wat sy hele lewe geaffekteer het,” sê sy. “Hy is ‘n uitsonderlike jong man met ‘n sagte, goedhartige gees. Iemand met ‘n stem, ‘n inspirasie. “Hy het sy besittings wat hy nie kon saam neem nie vir ander mense wat op straat leef uitgedeel. Hy het vir my gesê:

‘Dit maak nie meer saak nie, ek los dit agter my’,” vertel Basson. “Ons weet dat God nog groot planne vir hom het. JD sê dat daar baie mense op Tzaneen se strate is wat verslaaf is en sukkel. Die reis na Meyerton saam met JD het my hele lewe en perspektief verander. Ek sal nooit weer dieselfde na mense wat sukkel met verslawing nie kyk nie,” sê Basson.

Lees ook: Help gogo buy food for drop-in centre

Rehabilitasiekostes beloop R8500 per maand en die instansie doen ‘n beroep op diegene wat JD wil help om skenkings te maak of ‘n maandelikse bydrae te gee om die kostes te dek. “Met ‘n konstante invloei van fondse is ons gewaarborg om JD se reis tot genesing suksesvol aan te pak. Elke bietjie tel,” sê Basson. Vir meer besonderhede en om betrokke te raak, kontak Gia Basson by 084 639 3461, of stuur ‘n e-pos na pathwayfunds@gmail.com.

Related Articles

 
Back to top button