Local news

Varsproduktemark en hotelskool op die kaarte

Kleinboere en verbruikers in die groter Tzaneen-omgewing kan uitsien na ‘n varsproduktemark by die Letaba-skougronde asook ‘n hotelskool wat beplan word.

Dié uitbreidings deur Agri Letaba en Letaba TVET College is verlede week tydens die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsforum se vergadering by die Groter Tzaneense Munisipaliteit bespreek. Die forum vergader kwartaalliks en tydens die sitting is daar verskeie toekomstige ontwikkelings in die omgewing bespreek.

Agri Letaba, wat meer as 100 boere in die omgewing verteenwoordig, het tydens die vergadering aangekondig dat ‘n varsproduktemark in 2025 sy deure sal oopmaak. Naomi Excell, hoofuitvoerendebeampte van Agri Letaba het ook aangekondig dat die Letaba-skou, wat vir baie jare ‘n hoeksteen-gebeurtenis vir die plaaslike landbougemeenskap was, nie weer sal plaasvind nie, maar dat die varsproduktemark nuwe geleenthede sal bring vir boere en verbruikers.

Lees ook: Baie vermaak by die Agri Letaba Skou

Die varsproduktemark sal op Agri Letaba se eiendom langs die Letabarivier op Tzaneen gebou word. “Die nuwe mark sal ‘n direkte skakel vorm tussen die produsente en verbruikers en sal varser produkte vir die verbruiker en beter opbrengste vir ons boere verseker,” het Excell tydens die vergadering gesê.

Clement Nkuna, assistentdirekteur van die Letaba TVET College se besigheidsafdeling, het aangekondig dat hul ook uitbreidings vir die toekoms beplan. Die instansie het ‘n plaas in Ofcolaco gekoop om vir landboustudente praktiese ervaring te bied. Hulle het ook ‘n hotel op Tzaneen gekoop om hul hospitaliteitstudente praktiese ervaring te gee.

Lees ook: Letaba Skou se gloriedae onthou

Die strategiese verkrygings is, volgens Nkuna, deur Letaba TVET College gedoen om opvoedkundige geleenthede in die streek te bevorder. “Hierdie uitbreidings sal aan ons studente eerstehandse opleiding bied wat hulle sal voorberei vir die arbeidsmark met praktiese ervaring,” het Nkuna gesê.

Related Articles

 
Back to top button