Local news

Ruan (16) moet dringend operasie kry

‘n 16-jarige seun van Tzaneen, Ruan Weideman, is onlangs gediagnoseer met ‘n vinnige groeiende gewas, genaamd odontogeniese myxoom.

Die gewas is volgens dokters nie kwaadaardig nie, maar Ruan sal uitgebreide kaak- en middelgesigchirurgie moet ondergaan om die gewas te verwyder. Die gewas is lewensgevaarlik en groei baie vinnig en hy moet dringend ‘n operasie ondergaan om te verhoed dat die gewas na sy skedel en brein versprei. ‘n CT-skandering het gewys dat die gewas sy hele regterkaak bedek en tot in die neus- en sinusholte en die regteroogbank strek.

Sy ma, Nadine, vertel dat hy reeds in Augustus verlede jaar simptome gewys het. “Sy tweelingboetie, Erard, kry soms erge sinus, en toe Ruan kla oor sinuspyn, het ons gedink dit is bloot die lenteen stuifmeelseisoen. Hy het daarna gekla van tandpyn en ons het vermoed dit is dalk sy verstandtande. “Later het Ruan weer gekla van tandpyn wat gekom en gegaan het en hy het gesê dat sy verhemelte geswel is en sy tande los voel.”

Lees ook: Tyler se sus ‘n gepaste skenker

Nadine het hom in Januarie tandarts toe geneem. Hy is vandaar dringend na die kaak-, gesigs- en mondchirurg, dr. Andries Dreyer, in Phalaborwa verwys wat Ruan met die gewas gediagnoseer het. Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie en met die hulp van Dreyer kon Ruan deur akademiese dokters en spesialiste by staatsinstansies ondersoek word. Dit het egter vir Nadine en haar gesin duidelik geword dat die proses stadig is en eenvoudig te lank vat.

Die gewas se groei was vinniger as die beplanning vir die behandeling. Deur ‘n vriendin het hulle Caring Daisies genader om te help om geld in te samel om die gewas by ‘n privaat hospitaal te laat verwyder. Hy sal ook ‘n obturator, ‘n verwyderbare toestel wat in die gesig geplaas word, benodig om die gesig te kontoere te vernuwe nadat die gewas verwyder is.

Die kostes word op R2 miljoen beraam, maar volgens Nadine, kan die kostes nog nie finaal bepaal word voordat die hospitaal ‘n kwotasie vir die hemimaksillektomie uitgewerk het nie. “Ons het dokters en chirurge wat bereid is om pro bono werk te doen, en hoop dat dit die kostes sal verminder. Ons kan ook nog nie nou bepaal hoeveel benodig sal word vir nasorg nie. Ons het opnuut besef hoe baie mense in die omgewing omgee,” sê sy.

Lees ook: Terugslag vir Tyler

Ruan en sy broer is beide leerders by Hoërskool Ben Vorster en die gesin benodig dringend donasies om hierdie belangrike operasie vir Ruan ‘n realiteit te maak. Besighede en individue wat graag ‘n skenking wil maak, kan Moné Pieterse by 079 503 2004 skakel vir die NPO, Caring Daisies, se bankbesonderhede. Caring Daisies sal die geld hanteer en kan ook ‘n artikel 18A-belastingsertifikaat uitreik vir alle bydraes bo R5000. Daar is ook ‘n Backa-Buddy-bladsy onder die hutsmerk #Hope4Ruan begin. Besoek www. backabuddy.co.za/ campaign/hope-forruan om ‘n donasie te maak.

Related Articles

 
Back to top button