Local news

Beeste dood na kraglyn omval

Die verouderde elektriese infrastruktuur hou ‘n gevaar vir mense en diere in, veral wanneer die Groter Tzaneense Munisipalilteit (GTM) hul tyd neem om herstelwerk te doen wanneer kraglyne beskadig is.

‘n Ambagsman van ‘n boerdery buite Letsitele, vertel dat ‘n gebrek aan instandhouding deur die GTM daartoe gelei het dat vier beeste doodgeskok is na ‘n kraglyn by die boerdery op 11 November omgeval het. Die beeste se waarde word op sowat R25 000 elk beraam.  “Ons is Saterdagmiddag om 16:00 in kennis gestel van die insident en het teen 20:00 die aand die foute gerapporteer. Die kraglyn was lewendig en het sowat ‘n meter bo die grond gehang,” vertel hy. Die GTM het Sondag, 12 November die kraglyn beveilig en vervang.

Volgens die ambagsman dateer die SANS-sertifikaat op die kragpaal vanaf 1979. Hy sê so ‘n paal word vir 20 jaar as veilig geag, maar dat die paal nou 44 jaar oud is en 24 jaar verby die voorgeskrewe vervangingstydperk is. “Ons is baie gelukkig dat geen mense in die voorval seergekry het nie,” sê hy. Vutivi Makhubele, woordvoerder vir die GTM, het die Herald na die burgemeester, Gerson Molapisane se State of the Municipality Address verwys op ‘n navraag oor die GTM se instandhoudingsagterstand. In die toespraak erken die burgemeester dat die munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk verouderd is en volgehoue instandhouding en opknapping nodig is.

Lees ook: Arbiter gee uitspraak in Doornhoek-dispuut

“Ons het en gaan miljoene rande in die opknapping van ons netwerk belê. “Dit is egter nie genoeg om aan die behoeftes te voldoen nie,” sê Molapisane in die toespraak. Daar word verder gesê dat R6 miljoen aan die 11kv-lyn van Waterbok na Selwane bestee sal word; R5 miljoen sal aan ‘n moniteringsisteem vir die GTM-netwerk bestee word; R4 miljoen om Ebenezer se 33kV te herbou; R1.5 miljoen om Duiwelskloof se 33kv-lyn te herbou; R1 miljoen om Grysapel se 11kv-lyn te herbou; R1 miljoen om Pusela se 11kv-lyn te herbou;

R1 miljoen om die Manorvlei en Broederstroomdrift 11kv-lyn te herbou; R2 miljoen om die paneelstroombreker by Letsitele se hoofsubstasie te vervang; R1 miljoen aan die vernuwing en herstel van grootmaatmeters en om transformeerders en meterpanele te vervang op Tarentaalrand; R2 miljoen vir die omheining van elektriese infrastruktuur; R1 miljoen vir die installasie van straat- en verkeersligte op die R71 Voortrekkerstraat na Deerpark-verkeersirkel; en R500 000 aan die installasie van STATS-meters by die substasies op Tzaneen, Letsitele, Rubbervale en by die Westelike substasie.

Related Articles

Back to top button