Local news

Arbiter gee uitspraak in Doornhoek-dispuut

Die twis tussen die ontwikkelaar van die luukse Doornhoekperdelandgoed buite Tzaneen en ‘n tweede ‘aftreeoordontwikkelaar’ binne die landgoed, is onlangs besleg nadat miljoene rande aan regskostes bestee is.

Regter Cynthia Pretorius, as arbiter, het ‘n eis van meer as R10 miljoen deur Jan Paul Kruger, Tolstoi Kruger se seun, en Dewald Pretorius van Pretorius Broers Konstruksie teen die ontwikkelaar van Doornhoek verwerp nadat sy bevind het dat die koopooreenkoms tussen die partye regmatig deur die ontwikkelaar gekanselleer is. Die geskil het ontstaan nadat Kruger en Pretorius (De Rust JV) ‘n erf by die Doornhoekontwikkelaar, Pieter Scholtz van Hoedspruit, vir R4.8 miljoen gekoop het met die oog om luukse eenhede met die naam De Rust te ontwikkel.

Kruger en Pretorius het begin om die erf te ontwikkel en het twee skou-wooneenhede opgerig. ‘n Geskil het tussen De Rust JV en die Doornhoekhuiseienaarsvereniging ontstaan nadat Kruger en Pretorius ‘n 40-jaar-en-ouerouderdomsbeperking met geen kinders, op kopers, wat op die ontwikkeling van toepassing was, wou skrap. Hierdie beperking was ‘n verslapping van ‘n 50-jaar-en-ouerbeperking in hul kontrak met die Doornhoek-ontwikkelaar.

Lees ook: Hofstryd by Doornhoeklandgoed duur voort

In Maart verlede jaar het Scholtz die koopkontrak van die erf gekanselleer nadat die uitstaande balans van nagenoeg R3.4 miljoen van die R4.8 miljoen-koopsom van die erf, nie deur Pretorius en Kruger (De Rust JV) betaal is nie. Pretorius en Kruger het in reaksie ‘n verrykingseis van R10.1 miljoen teen die Doornhoek-ontwikkelaar (en ander) ingestel op ‘n regsbeginsel dat hulle “verryk” is deur hul verbeterings op die erf. Hierdie dispute is verwys vir arbitrasie voor regter Pretorius.

Op 8 November het regter Pretorius in die arbitrasieuitspraak, nie net Kruger en Pretorius se eise van die hand gewys nie, maar ook ‘n kostebevel, wat regskostes van die partye insluit, teen hul uitgereik. Volgens die uitspraak het die Doornhoek-ontwikkelaar vooraf ingestem om die aanvanklike deposito wat Kruger en Pretorius vir die erf betaal het, ongeveer R1.4 miljoen, terug te betaal na die kansellasie van die koop en teen teruggawe van die eiendom.

Lees ook: New owner says illegal fishing is under control at Jetty 3

Regter Pretorius het bevind dat die “verrykingsregsargument” nie staan nie aangesien die eisoorsaak van Pretorius en Kruger nie bewys is nie. Die feit dat Pretorius en Kruger vooraf prokureurs- en advokaatkostes by hulle eis om verryking ingesluit het, is ook deur haar gekasty. Sy het ook bevestig dat Pretorius en Kruger in kontrakbreuk was en dat die kansellasie deur Scholtz regmatig plaasgevind het. Daar kan nie teen haar bevinding, soos vooraf ooreengekom tussen die partye, geappèlleer word nie. Louis Erasmus van Thomas en Swanepoel het namens Scholtz se maatskappy en ander opgetree en Flip Coetzer namens die eisers.

Related Articles

Back to top button