Local news

Oud-skoolhoof sterf op sy fiets in fratsongeluk

Die Tzaneense gemeenskap is in skok na Johan van den Heever (73) Saterdagoggend oorlede is na ‘n voertuig na bewering beheer verloor het en hom op sy fiets getref het.

Hy en ‘n vriendin, Hannelie Schoonraad, het ter voorbereiding vir die Joburg Ride (die ou 94.7) gaan fietsry op die Georges Valley-pad. Albei het op die grondpad langs die teerpad gery toe die fratsongeluk naby Maxims Gastehuis gebeur het. Duncan Bothma, eienaar van Maxims vertel hy het in sy voertuig langs die pad gesit terwyl werkers goed van sy bakkie afgelaai het. “Johan het van Tzaneen se kant af aangery gekom en ons het mekaar gegroet.

Johan van den Heever is Saterdagoggend oorlede na ‘n voertuig hom getref het terwyl hy fiets gery het op die Georges Valley-pad. > Foto: Johan saam met sy seun, Braam, skoondogter, Shani en kleinkinders, Johan en Shané.

Hy het nog twee maal sy fiets getrap en toe sien ek hoe hy sy gesig na die pad draai en hoe sy gesigsuitdrukking verander. ‘n Voertuig het hom getref en hy het deur die lug gevlieg.” Bothma sê die Georges Valley-pad is gevaarlik en dat iets daaromtrent gedoen moet word. Hendrik van Schalkwyk, voorsitter van die Tzaneen-fietsryklub het aan die Herald gesê die ongeluk is ‘n wekroep vir fietsryers. “Dit is ‘n tragiese gebeurtenis, ons as fietsryers moet ons veiligheid eerste stel.

Lees ook: Plasies wys hul agrispiere by jeugskou

Ons wil die paaie veilig gebruik en dit deel met voertuie,” sê hy. “Ons verstaan dat dit ‘n fratsongeluk was en dat dit net sowel ‘n voetganger kon gewees het,” voeg Van Schalkwyk by. Dr. Shani van den Heever, Johan se skoondogter, sê hulle het gereeld die roete gery. “Hy het voor gery en het gekeer vir Hannelie,” sê sy. Shani was later self ook op die toneel van die ongeluk en sê hy is opslag oorlede. “Hy het gedoen waarvoor hy lief was.

Hy het ‘n hart vir jongmense gehad en het altyd gehelp waar hy kon en saam met fietsryvriendinne op ritte gegaan as chaperone,” sê sy. Johan, oud-skoolhoof van Merensky Landbou Akademie (MLA), het diep spore in Tzaneen getrap. “Mnr. Van den Heever was van 1991 tot 2008 die hoof van MLA. Daarna het hy sy verhouding met Merensky voortgesit as strategiese bestuurder by die Laeveld Boerdery Trust (LBT) tot en met sy afsterwe. Onder sy leiding het hy LBT se landboubelange uitgebrei en van krag tot krag gegaan.

Lees ook: Plasies hou stokke hoog

Mnr. Van den Heever sal onthou word vir sy menseverhoudings en veral sy liefde en opregte belangstelling in die kinders van sy skool. Ons eer sy nagedagtenis en MLA sal altyd waardering hê vir die diep spore wat hy getrap het,” sê Magnus Steyn, hoof van MLA. Hy laat sy vrou, Alma, en drie kinders, Braam, Mari en Annemie na, asook sy kleinkinders, Johan, Shané, Almia en Jami, en skoonkinders, Shani en Francois Roux. Sy gedenkdiens sal Vrydag om 11:00 by die N.G. Kerk Moedergemeente op Tzaneen plaasvind. Shani het namens die Van den Heever-familie die gemeenskap vir hulle bystand, gebede en hulp in die moeilike tyd bedank.

Related Articles

Back to top button