Local news

Baie vermaak by die Agri Letaba Skou

Feesgangers kan vanjaar na ‘n opwindende en propvol program by die Agri Letaba Skou uitsien wat van 9 tot 11 Augustus by die Tzaneen Skougronde plaasvind.

Die skou sal Woensdag om 09:00 hul hekke open en besoekers by die grootste landbouskou in die noorde van die land verwelkom. Dagkaartjies kos R50 vir kinders en R120 vir volwassenes. Kinders betaal R80 vir ‘n tweedag-kaartjie en R90 vir ‘n driedag-kaartjie. Volwassenes betaal R200 vir ‘n tweedag-kaartjie en R280 vir ‘n driedag-kaartjie.

Daaglikse vertonings sluit in ‘n miniatuurperdskou, reptielskou, paradevertonings deur die Suid-Afrikaanse Weermag en die polisie, “extreme” motorfietstoertjies en rofstoeigevegte. Tradisionele dansers en Merensky Landbou Akademie se sweepslaners sal Woensdag en Donderdag optree. Woensdag, 9 Augustus:

Boere en landbou-entoesiaste kan uitsien na die boerbok-, Kalahari Red- en Savanna-skou wat in die bokring van 09:00 tot 17:00 plaasvind. Terselfdertyd vind die slagoskompetisie in die beesarena plaas. Die jeugskou skop om 10:00 af met leerders van Limpopo, Gauteng en Noordwes wat deelneem. Van 09:00 tot 12:00 bied Standard Bank ‘n ontbyt aan waar ekonome en kundiges hul insette oor die stand van landsake sal deel.

Lees ook: Letaba Spring Show promises great entertainment for old and young

Op die verhoog sal Danny Shade om 17:45 die skare opwarm vir Jan Rhaap om 18:30 en Eloff wat om 19:30 sal optree. Van 20:45 is Anton Botha en Tanya V in die biertuin op die verhoog.

Donderdag, 8 Augustus:

Die dorp se ouer geslag kan uitsien na die gebruiklike senior burger-tee wat in saal B van 10:00 tot 13:00 plaasvind. Die boerbok-, Kalahari Reden Savanna-beoordeling vind van 09:00 tot 17:00 plaas in die bokring terwyl die Simmentaler-skou in die beesarena plaasvind. Die skoumanskap van Limpopo, Noordwes en Mpumalanga se jeug sal van 09:00 tot 17:00 ten toon gestel word.

Lees ook: #LetabaSkou: Francois van Coke, Snotkop, Lizz Meiring, Juba, Piet Pompies….almal is hier!

Van 12:00 tot 17:00 sê Agri Letaba se boere en die Tzaneense Sakekamer mekaar die stryd aan in ‘n potjiekoskompetisie by die rivier. Anton Botha en Tanya V sal optree vir die gesellige geleentheid. Juba sing om 17:30 op die hoofverhoog, met Ichnus om 18:30 en Brendan Peyper om 19:30. Die biertuin sal om 20:00 opwarm met Anton Botha en Tanya V wat sing.

Vrydag, 9 Augustus:

Die laaste dag van die skou skop af met die interrasskou in die lewendehawe-arena van 09:00 tot 11:00. Kort daarna bied die skou vir die eerste keer in samewerking met BKB ‘n lewendehaweveiling aan. Standard Bank bied van 09:30 tot 10:00 ‘n praatjie aan en sal om 11:20 die spreker by die Standard Bank-tent aan die skougangers bekend stel. Om 13:45 tree die trompoppies op en op die hoofverhoog sal Georgetown & The Moonies om 18:00 optree. DJ Dalootz tree om 19:30 op en Anton Botha en Tanya V sal vir oulaas om 20:45 by die biertent optree.

Related Articles

 
Back to top button