Local news

Sewe in hof wat mini-substasies glo plunder

Sewe mense wat verbind word met die vandalisering van die mini-substasies op die dorp, het verlede Donderdag in die Tzaneen-landdroshof verskyn.

Twee van die beskuldiges, ‘n man en vrou, Jaco (31) en Tanya Pretorius, is vir beweerde kabeldiefstal vasgetrek. Na wat verneem word is hul sake na Brits oorgeplaas waar hulle ook gesoek word vir diefstal. Die ander beskuldiges is Zelma Snyman (42), wat na bewering met dwelms gevang is, Werner Kehrhahn (38) en Charles Karusseit (33) wat in besit van beweerde gesteelde goedere gevang is.

Nog twee verdagtes, Elaine De Klerk (34) en Natasha Otto (44) word van diefstal en huisbraak aangekla. Intussen het dit aan die lig gekom dat die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) sedert verlede week in die nag veiligheidswagte by alle mini-substasies ontplooi om die infrastruktuur te beskerm. Neville Ndala, woordvoerder van die GTM, het Dinsdag bevestig dat die substasies opgepas word, maar het teen druktyd nie gereageer op vrae hoe die kontrak toegeken is of wat die koste daaraan verbonde is nie.

Lees ook: Mini-subs targeted in town

Chrisma Bredenkamp, proporsionale raadslid vir die Demokratiese Alliansie, het ook aan die Herald bevestig dat wagte snags by substasies geplaas word. Volgens haar het sy ‘n navraag aan die GTM se direkteur van elektrisiteit, Freedom Mthetwa, gestuur en sou teen Woensdag ‘n antwoord ontvang het. Die vandalisering van die substasies is ook voor verlede week geopper tydens ‘n vergadering op Woensdag 17 Mei tussen die GTM en inwoners van wyk 14 en 15.

Tydens dié vergadering is amptenare uitgejou toe hul na die vandalisering verwys het en die probleme wat dit veroorsaak. Die veiligheidswagte is kort daarna, op Maandag 22 Mei, ontplooi. Die Herald het ook in April berig oor die vandalisering van die mini substasies. Daar is toe gesê dat patrollies snags nie help nie omdat die booswigte bloot wegkruip wanneer hulle ‘n patrolliemotor sien. In dieselfde week in April is tien substasies gevandaliseer wat 500 huishoudings vir 24-uur of meer sonder elektrisiteit gelaat het.

Related Articles

 
Back to top button