Local news

Tyler se sus ‘n gepaste skenker

Dit gaan goed met die agtjarige Tzaneense leukemielyer, Tyler McGaffin.

Nie net is Tyler se sussie, Caley, as ‘n gepaste skenker getoets vir die beenmurg-oorplanting wat hy moet kry nie, maar hy is weer in remissie. Tans ontvang Tyler weekliks chemoterapie en is op ‘n program om hom vir die oorplanting voor te berei, sê Tyler se ma, Simoné. Hulle bly tans in Pretoria om naby sy dokters en Unitas-hospitaal te wees waar hy behandel word. Tyler is drie jaar gelede tydens die Covid-19 pandemie met leukemie gediagnoseer.

Lees ook: Terugslag vir Tyler

Hy het sedertdien maandeliks voorkomende chemoterapie ontvang en daagliks ‘n chemo-pil gedrink. Daar is ook elke derde maand ‘n spinale tap gedoen en hy het elke maand vir bloedtoetse gegaan. Hy was in remissie toe hy einde Maart ‘n terugslag beleef het nadat hy rugpyn ondervind het. Toetse het kankerselle gewys en hulle is op 27 Maart deur sy onkoloog, prof. Fareed Omar, ingelig dat Tyler ‘n beenmurgoorplanting nodig het.

Daar is toe besluit om vir Caley te toets as skenker en volgens Simoné is Caley ‘n 100% skenker. “Dit is nou belangrik om Tyler en Caley gesond te hou tot en met die oorplanting,” sê Simoné. Sy sê die laaste paar weke was uitdagend en ‘n emosioneel moeilik. “Maar ons is amper daar. Dankie vir elkeen se boodskap, dit word opreg waardeer,” sê Simoné. Intussen het Tyler se neef, Dillen McGaffin, wat in Engeland woon op 21 April die Londenmarathon voltooi. Hy is deur Tyler geïnspireer om die resies ter ondersteuning van CHOC te hardloop.

Dillen McGaffin het die Londenmarathon voltooi.

Related Articles

 
Back to top button