Local news

Donker skadu hang oor broodboomreservaat

Sedert die begin van die jaar het nog net ses mense die besoekersboek by die Modjadjibroodboomreservaat geteken.

Dit is ten spyte daarvan dat dié woud een van die mees unieke natuurlike erfenisse in die wêreld is. Dit is nie net die grootste van sy soort in Suid-Afrika nie, maar ook die wêreld. Nêrens anders kan ‘n mens ‘n broodboompopulasie aantref met die digtheid en skaal van Modjadji nie. Volgens ‘n besoeker wat die reservaat oor die Paasnaweek besoek het, is die toilette en braaigeriewe wat in 2019 deur ‘n veldbrand vernietig is, na vier jaar steeds vervalle. Die voetpaadjies om deur die reservaat te stap is verspoel en moeilik om te navigeer. Daar is wel ‘n persoon by die ingang, maar geen toegang word tans gehef nie.

‘n Kundige en landskapsargitek wat die reservaat gereeld besoek, David Griesel, sê die reservaat was altyd baie goed besoek, maar weens die fasiliteite in die park wat nie onderhou of opgedateer word nie, asook die algehele agteruitgang, is dit onsmaaklik en weer dit toerisme af. Griesel vertel hy het in Tzaneen grootgeword en het hy van jongs af die reservaat besoek. “Ek het probeer om soveel moontlike natuurlike populasies van broodbome te besoek en te fotografeer en ken dit weens my persoonlike belangstelling en gereelde besoeke. Van die bestuur dra ek egter geen kennis nie,” sê Griesel wat deesdae in Ballito woon maar steeds die reservaat jaarliks besoek.

Lees ook: Sien ‘Kaptein Fantasties’ en die Letaba manne teen Musina dié naweek

Die Modjadji-broodboom, Encephalartos transvenosus, is Suid-Afrika se grootste en mees majestueuse spesie en die grootste eksemplare met regop stamme kan tot 16m hoog word. Die grootste plante kan tussen 600-800 jaar oud wees. Volgens Griesel word dié spesie in klein subpopulasies langs die Transvaalse Drakensberg-platorand suid van Tzaneen tot aan die Soutpansberg in die noorde gevind waar daar ‘n paar populasies aan die suidoostelike hange teenwoordig is. “Elke populasie het gewoonlik unieke karaktertrekke wat die vorm en voorkoms van die blare aanbetref, maar al lyk hul anders word hul nie as subspesies geklassifiseer nie, maar slegs as ekotipes wat veroorsaak is deur afsondering oor honderde jare met unieke lokale habitatstoestande in elke populasie.”

In die Modjadji-reënwoud is tussen 15 000 en 16 000 volwasse plante, dit sluit nie die saailingpopulasie nie, sê Griesel. Volgens hom is die beskadiging van broodbome vir tradisionele medisyne waartydens die bome se bas totaal en al afstroop word, ‘n reuse-bekommernis. Hy sê die Modjadjis word oor die algemeen nie so baie gesteel soos van die skaarser spesies nie. “Dit is bloot omdat hul relatief beskikbaar is. Dit is ‘n suksesverhaal in die sin dat die aanbod die aanvraag oorskry wat dié spesie aanbetref. Dit is al wat waarlik broodboom beskerming volhoubaar kan bevorder.” In 2019 het ‘n veldbrand deur die reservaat gewoed en baie mense was bekommerd oor die welstand van die broodbome.

Lees ook: Locals shine at the tenth avocado world congress

“Hulle is egter uitstekend aangepas om veldbrande te oorleef.” Volgens hom moet die reservaat met beheerde brande bestuur moet word. “Dit was vir ‘n hele aantal jare nooit gedoen nie weens wanbestuur, dus het die brandstoflading in die woud so hoog geword dat toe daar wel ‘n brand deurbeweeg, het dit so woes en warm gebrand dat dit skade aangerig het en sekere eeue-oue broodbome het wel doodgebrand. Dis juis die onbeheerbare hitte en skaal van die vuur wat die infrastruktuur verwoes het.” Hy sê die vuur het ook ‘n positiewe impak gehad. “Die woudplantegroei is nou in toom en die broodbome is gestimuleer  om weer uit te loop met baie sonlig waarin hul baie beter vaar.

Die aanvulling van koolstof in die grond help ook die effektiewe berging en beskikbaarheid van water en nutriënte in die grond.” Hy sê ten spyte van die donker skadu wat oor die woud hang weens die swak bestuur, het die woud baie goed herstel en floreer die bome. Herald het Zaid Kalla, woordvoerder van die Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (LEDET) genader vir kommentaar. Hy het bloot gesê dat weens begrotingsbeperkings sal herstelwerk in fases gedoen word. Hy geen verdere inligting gegee nie.

Related Articles

Back to top button