Local news

Terugslag vir Tyler

Net vier maande voordat ‘n Tzaneense kankerlyertjie na drie jaar sy laaste behandeling vir leukemie sou kry, het hy ‘n terugslag beleef.

Tyler McGaffin (8) het in die harte van Tzaneeners gekruip in sy stryd teen kanker en die veglus waarmee hy en sy ouers die siekte getakel het nadat hy in 2020 gediagnoseer is. Hy was sedertdien op ‘n driejaar-chemoen voorkomingsprogram en het nog net vier maande oorgehad toe hy op 27 Maart gehoor het dat hy ‘n beenmurgoorplanting nodig het nadat die leukemie teruggekeer het. Hy het die afgelope drie jaar elke maand vir bloedtoetse gegaan, een keer per maand chemo gekry en elke drie maande ‘n spinale tap gedoen.

Lees ook: Kankerlyertjie inspireer neef

Hy het ook elke dag ‘n chemo-pil gedrink. Volgens Tyler se ma, Simoné, het Tyler ‘n paar weke gelede ‘n seer rug ontwikkel. Toetse het kankerselle gewys en hulle is op 27 Maart deur sy onkoloog, prof. Fareed Omar, ingelig dat die leumekie teruggekeer het en dat Tyler ‘n beenmurgoorplanting nodig het. Simoné het aan die Herald gesê dat Tyler se sussie getoets is as moontlike skenker. Hulle wag tans om te hoor of sy geskik sal wees. Indien nie, sal hy op die skenkerlys geplaas word. Sy sê die belangrikste is om Tyler so gou as moontlik weer in remissie te kry sodat hulle die oorplanting kan doen.

“Die chemoterapie sal dié keer meer aggressief wees en dit sal ‘n moeilike pad wees, soos wat prof. Omar aan ons verduidelik het. Hierdie program sal korter wees, en afhangende van hoe hy reageer kan dit enigiets tussen vier maande en ‘n jaar duur,” sê Simoné. Tyler is Donderdag 6 April teater toe om ‘n nuwe J-buis chirurgies in te plant om te help met sy behandeling. “Ons is gewaarsku dat hy waarskynik baie siek sal word van sy nuwe behandeling,” sê Simoné. “Ons sal egter nooit moed opgee nie, dit is eenvoudig nie ‘n opsie nie.

Lees ook: Tzaneense kankerlyertjie inspireer fondsinsameling

God gee sy moeilikste stryd vir sy sterkste kinders, hy sal nooit vir ons iets gee wat ons nie kan hanteer nie,” sluit Simoné af. * Tyler se neef, Dillen McGaffin, wat in die buiteland woon, gaan op 23 April die Londen-marathon hardloop om geld in te samel vir kinders met kanker. Dillen het op Givengain ‘n fonds vir CHOC begin, ‘n nie-winsgewende organisasie wat hul beywer vir die gesondheid en welstand van kinders en tieners wat met kanker gediagnoseer is en hul gesinne. “Tyler is ‘n klein held, maar so is alle kinders wat teen kanker veg en daarom lê CHOC my na aan die hart,” skryf Dillen op die Givengain-blad. Gaan na www.givengain.com/ap/dillenmcgaffin-raisingfunds-for-chocchildhoodcancer-foundation-sa.

Related Articles

 
Back to top button