Local news

Klagtes teen GTM vloei in

Inwoners van Tzaneen gaan steeds gebuk onder knaende watertekorte en dit het opposisie partye op die dorp genoop om die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) by die Openbare Beskermer (OB) en die Menseregtekommissie (MRK) aan te gee.

Die VF Plus het verlede week ‘n klagte by die MRK ingedien. “Sommige huishoudings is bykans die hele dag sonder water en in die aand word die watertoevoer om 21:00 afgesny om die reservoirs se vlakke te stabiliseer of vol te maak. Die voorstede op Tzaneen asook die sakegemeenskap in Plantasiestraat is knaend sonder water,” sê André Moss proporsionele raadslid en verteenwoordiger van die VF Plus. “Boonop is die waterpompstasie in landelike gebiede buitewerking. Dit lei daartoe dat water onwettig op die dorp by brandweerkrane getap word om aan inwoners te verkoop,” sê hy.

Die VF Plus eis dat die MRK dringend ondersoek instel na hierdie skending van inwoners se grondwetlike reg van toegang tot voldoende water. Die party het ook gevra dat die MRK druk op die GTM plaas om sy verouderde waterinfrastruktuur te vervang en kragopwekkers by waterpompstasies te installeer. René Pohl, raadslid en koukusleier van die Demokratiese Alliansie (DA) het vroeg in Maart die GTM aangegee by die OB. “Die DA in Tzaneen het ‘n klagte by die OB ingedien teen die GTM vir nalatigheid om water aan gemeenskappe te voorsien.

Lees ook: Inwoners wil vlei toespan

“Voortslepende watertekorte wat deur beurtkrag vererger word het die diefstal van water deur sindikate laat toeneem. Die waterdiefstal gebeur helder oordag van brandkrane in woongebiede en die gesteelde water word dan op trokke in Jojo-tenke vervoer. Die DA ontvang daagliks verskeie klagtes van inwoners. Ons het ons eie ondersoek gedoen en het inwoners aangemoedig om alle verdagte aktiwiteite te rapporteer. Ons het ons bevindinge aan die GTM gerapporteer.

“Die GTM se weiering om op te tree is kommerwekkend en dit het duidelik geword dat daar geen gedetailleerde plan in plek is of die politieke wil is om misdaad te beveg nie. Die GTM se nalatigheid het die ideale omgewing vir korrupsie en kriminele dade geskep,” sê Pohl. Intussen het DA wyksraadslid, Chrizelle Dreyer, ‘n petisie van stapel gestuur op www.petitions.eko.org en teen Woensdagoggend het die petisie reeds 500 handtekeninge gehad. Neville Ndala, kommunikasiehoof by die GTM sê: “Dit is nie ‘n krisis nie, maar die watersituasie is nie goed nie.

Lees ook: Tzaneen gaan gebuk onder waterbeleg

Daar was ‘n vergadering gewees en privaat waterverkopers mag nie meer water tap nie. Die lek op die Georges Valley-pyplyn is ook herstel. Die verouderde infrastruktuur bly ‘n uitdaging en die GTM poog steeds om water te balanseer sodat hoogliggende areas ook water kry.” Hy het gesê hy is bewus van die klagtes wat by die OB en MRK ingedien is. “Ons wag vir korrespondensie van die instansies en sal dan daarop reageer,” sê Ndlala.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button