Inwoners wil vlei toespan

‘n Groep inwoners wat langs die vlei in die Soetdoring- en Maroelastraat-omgewing in Arbor Park woon, oorweeg ‘n voorstel om die vlei by die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) te huur en dit dan toe te span.

Dit kom nadat inwoners in die area reeds ‘n geruime tyd gebuk gaan onder toenemende inbrake en hawelose mense wat in die vlei slaap. Die gebied is die week deur GTM-amptenare besoek om ondersoek in te stel nadat VF Plus-raadslid, André Moss, die besoek gereël het. Volgens Moss is hy deur hulle genader oor die onbeheerde toegang na die vlei en misdaad wat besig is om in die gebied toe te neem. “Ek het met die GTM se department van landelike ontwikkeling en behuising geskakel en ons het baie goeie reaksie vanaf Handswell Phakula en André Liversage ontvang.”

Moss sê die amptenare het onmiddellik die gebied besoek en het ‘n inwoner te woord gestaan. Volgens hom is daar na verskeie oplossings gekyk en hulle is aangesê om alle voorstelle aan die departement te rig vir goedkeuring. Hy sê een van die voorstelle wat deur Phakula en Liversage gemaak is, is dat die inwoners die vleiland huur en op hul eie koste toespan en die nodige instandhouding doen. “Dit is ‘n reuse-oorwinning vir die inwoners en hulle gaan in oorleg met alle rolspelers, die GTM met so ‘n versoek nader.”

Lees ook: Tzaneen gaan gebuk onder waterbeleg

‘n Inwoner wat in die gebied woon het aan die Herald gesê dat die wildlewe rondom die vlei verjaag word deur toenemende onwettige aktiwiteite. Volgens haar is ‘n wildsbokkie onlangs in ‘n strik gevang. “Mense vang ook onwettig vis in die damme en alle lewe, selfs die voëllewe is al minder.” Sy sê dat die vlei ook ‘n gewilde wegkruipplek vir boosdoeners is wanneer hulle vir die polisie of sekuriteitsmaatskappye vlug.

“Onlangs het ‘n man ‘n familielid se motor tydens beurtkrag in die vlei weggesteek en dit net daar gelos,” vertel sy. “Hierdie is een van die mooiste areas in Tzaneen en ons as inwoners wil saamstaan om dit te beskerm,” sluit sy af. Inwoners kan Moss skakel by 066 238 1347.

Exit mobile version