Reën, reën en nog reën val

Hoewel groot reënneerslae die afgelope week op Tzaneen en in die omliggende areas aangeteken is en riviere in vloed is, blyk die skade aan infrastruktuur minder drasties te wees as wat aanvanklik vermoed is.

Fanie Oberholzer, ‘n plaaslike finansiële beplanner wat as stokperdjie ook boekhou van daaglikse reënneerslae, het Dinsdag aan die Herald gesê dat hy tot en met Dinsdagoggend om 07:00 reeds 500.7mm by sy woning in Aqua Park vir die maand aangeteken het. Volgens hom is die 75 jaarmaandgemiddeld vir Februarie 170mm. “Dit is die eerste keer in 18 jaar wat ek daaglikse reënval aanteken waar dit vir vyf opeenvolgende dae (10 tot 14 Februarie) meer as 50mm per dag gereën het,” het hy gesê.

Dié syfers is 78mm, 77.5mm, 88mm, 93.5mm en 85.5mm. Die natste Februariemaande in die onlangse verlede was in 1996 toe dit 553mm  gereën het en met die vloede in 2000 toe dit 883mm gereën het. Hy sê vorige groot Februarie-reënvalsyfers het gewoonlik met tropiese storms of siklone gepaard gegaan, maar dit nie die geval is met die reën die afgelope week nie. Volgens Jacque Kruger van die Letaba Watergebruikersvereniging was die Tzaneendam Woensdagoggend 108.78% vol en het 174.2 kumek water oor die wal gespoel (1000 liter per sekonde).

Lees ook: Man rescued from tree in flooding river after four days

Deur die sluise wat Maandagmiddag oopgetrek is, het 10 kumek gestroom. Ten spyte daarvan het die vereniging min berigte van skade ontvang omdat boere stroomaf voorbereid was en toerusting vooraf verwyder het. Vanuit Haenertsburg berig Liz Betton, wat op die oewer van die Ebenezerdam, woon, dat sy net Sondagnag 112mm gemeet het. Sy het Dinsdagoggend laat weet dat dit Maandag 160mm langs die dam gereën het. ‘n Huiseienaar langs die dam, Patrick Scott, se keerwal het ook weens die reën meegegee. Die Ebenezerdam het ook oor die naweek begin oorloop.

Pieter Vorster van Mahela op Letsitele het Dinsdag aan die Herald gesê dat ten spyte van die baie reën het hulle geringe skade gehad. “Die water tel nog op so  dis nog vroeg om te sê. Daar is jong boorde wat uitgespoel het en een klein damwal het gebreek. Maar ons is dankbaar vir die reën,” het hy gesê. Volgens René Pohl, DAwyksraadlid vir wyk 14, het die Schultz-brug in Magoebaskloof oorstroom en was plaasbewoners vasgekeer is. Sy het die situasie aan die munisipaliteit gerapporteer en reëlings is getref dat inwoners deur ‘n naburige plaas die grootpad kon bereik.

Ook in die Politsi-omgewing was daar Dinsdag op die plaas Rantenberg, al 807mm vir Februarie gemeet. Intussen het die kantoor van die presidensie Maandag ‘n ramptoestand in al die noordelike provinsies van die land afgekondig om te help met skade. Odas Ngobeni, woordvoerder van die Mopani Distriksmunisipaliteit wat in beheer is van die noodsentrum op Tzaneen, het inwoners gevra om op hul hoede te wees wanneer hulle riviere oorsteek. Hy sê ook dat teen Dinsdag het hulle een geval van verdrinking gehad van ‘n graad 10 leerder in die Groter Letaba munisipale gebied naby die dorpie Mamokgadi.

Exit mobile version