Vordering stadig maar seker met lig van Tzaneendamwal

Daar is vordering met die tegniese aspekte rakende die lig van die Tzaneendamwal, alhoewel die tydlyn vir die konstruksieprojek nog nie op hierdie tydstip bekend gemaak kan word nie.

Die projek het in Februarie 2016 reeds begin met die eerste fase wat die afbreek-konstruksie van die damwal behels het. Die omvang van die volgende fase van die projek sluit in die afbreek van die bestaande uitloop, die konstruksie van ‘n labirint-uitloop en ander kleiner werke. Die daarstelling van die projekbestuurskantoor is die volgende stap om die lig van die Tzaneendamwal ‘n realiteit te maak.

Volgens Jaques Kruger, hoofuitvoerende beampte van die Letaba Watergebruikersvereniging, het die projekbestuurder aan hom bevestig dat beide die Groter Tzaneense Munisipaliteit en die Mopani Distriksmunisipaliteit die groen lig gegee het om te begin met die sosiale fasiliteringsproses en ook die daarstelling van die projekbestuurskantoor vir die projek. Luidens Kruger sal die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika die projekbestuurkantoor opstel vanwaar die publiek ingelig sal word van die beplande aktiwiteite rakende die Tzaneendamwalprojek.

Also read: Hoop op verhoogde damwal

Kruger sê dat ‘n volledige span goedgekeurde professionele persone aangestel is op dié projek en is die span tans besig met die ontwerpe. Daar kan in November aansoek gedoen word vir die konstruksielisensie, sê Kruger. Die Tzaneendamwal sal met drie meter gelig word om die totale bergingskapasiteit te vermeerder van 158 miljoen kubieke meter (kumeks) met ‘n verdere 35 miljoen kumeks tot 193 miljoen kumeks.

Dit sal dan ook die opbrengs vermeerder met 4 miljoen kumeks per jaar vir huishoudelike en kommersiële gebruik in die Groter Tzaneense munisipale area. Die totale geraamde koste van die projek beloop sowat R555 miljoen. Kruger het in Mei vanjaar aan die Herald gesê dat die dam leeg gemaak moet word tot op 60%-kapasitieit om dié konstruksieprojek veilig aan te pak.

Exit mobile version