Local news

Doodskokke ‘n risiko by pompstasie

Ontblote elektriese bedrading en vele regulasies wat nie aan voldoen word by die waterpompstasie op Letsitele, stel die publiek in gevaar en dit wil voorkom asof die herstelwerk hiervan nie vir die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) ‘n prioriteit is nie.

“Dit is lewensgevaarlik en as dit nat is kan dit kinders wat daarmee peuter dood skok,” vertel die inwoner wat gereeld die water vir die plaaslike skool en kerk moet aanskakel by die pompstasie. DA-raadslede, Chrisma Bredenkamp en René Pohl, het op 18 Julie reeds die area besoek nadat Bredenkamp klagtes van die inwoners op die dorp ontvang het. “As raadslede het ons nie die nodige ervaring om dit te assesseer nie,” vertel Bredenkamp.

Sy het toe ‘n plaaslike gekwalifiseerde elektrisiën, John McDermott genader om die die potensiële elektriese gevaar by die pompstasie, kraglyne, die transformator en die kragboks by die pompstasie te assesseer. McDermott se verslag is reeds bekend aan die GTM en Bredenkamp het die saak reeds by die betrokke departement, die burgemeester, Gerson Molapisane en munisipale bestuurder, Donald Mhangwana, aangemeld.

Lees ook: Letsitele Kaskarwedrenne in beeld

McDermott verduidelik dat sy verslag in konteks van die Suid-Afrikaanse nasionale veiligheidstandaarde, elektriese installasieregulasies van 2020 en die Wet op Beroepsveiligheid nr 85 van 1993 gelees moet word. Die verslag is aan die Herald bekend gemaak, maar kan nie ten volle gepubliseer word nie weens spasiebeperkings. Dit lees dat op die LV-verspreidingslyn, munisipale bokse oop is en nie gesluit is nie.

‘n Oop ‘busbar’ (koper geleier wat die stroom versprei in die paneel) stel kinders en mense bloot aan 380V direk tot die aarde, dus 330V bo die perk van aanraking van ‘n maksimum van 50V. “‘n Potensiële kortsluiting kan plaasvind tussen ‘busbars’ op hoë stroomvlakke van 30-50V afhangende van die 100kv transformator se gradering,” verduidelik McDermott se verslag. By die HV/MV-transformator is die
volgende geïdentifiseer deur McDermott:

Lees ook: Kliniek se water met E.Coli besmet

“Die beaardingsdrade is gesny of ontbreek by sekere bokse in die area, asook by die transformatorpaal. Die weerligafweerders is geblaas en sommige is nie gekoppel nie.” Op die LA-lyn is daar ook ‘n ernstige elektriese lading op die paal via die draad na die grond wat die lading lig na 595V, enige lading tot en met 11/22kV sal gelei, lui die verslag. McDermott skryf verder: “Die stroom kan gelei tot omliggende huise, omheinings, verspreidingsbokse, geboue, lamppale en metaalpype wanneer dit reën.”

Sy verslag noem wel dat die bevindinge niemand impliseer vir nalatigheid nie, maar dat indien daar ‘n ernstige insident plaasvind, die gevolge dodelik kan wees en dat persone in ‘n organisasie aanspreeklik gehou kan word. “Dus raai ek die betrokke partye by die munisipaliteit aan om alle installasies te ondersoek wat onder hul toesig is en om spoedig op te tree,” sluit McDermott se verslag af. Die Herald het reeds op 1 Augustus die GTM se woordvoerder, Vutivi Makhubela genader vir kommentaar rakende die gevaar. Sy het gesê dat die GTM ‘n span sal uitstuur om dit te assesseer en dis nie seker of dit wel gebeur het nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button