Crime

Rower vas na hy by plaashuis inbreek

‘n Rower wat by ‘n plaashuis naby Modjadjiskloof ingebreek het en met ‘n vuurwapen en ‘n motor op vlug geslaan het, is kort daarna in die Bolobedu-gebied vasgetrek.

‘n Vermeende rower is vinnig deur die polisie vasgetrek nadat hy verlede Maandag by ‘n plaashuis in die Modjadjiskloofomgewing ingebreek het. Die verdagte, Tumelo Malatjie (27) het volgens Limpopo-polisiewoordvoerder, brig. Motlafela Mojapelo op 19 Oktober in die Tzaneense Landddroshof verskyn op aanklagte van diefstal asook aanklagte van die onwettige besit vat ‘n vuurwapen en ammunusie.

Mojapelo het ook Dinsdag aan die Herald bevestig dat die verdagte in polisieaanhouding sal bly tot sy formele borgtogaansoek aangehoor word op 26 Oktober. Volgens ‘n verklaring uitgereik deur Mojapelo is die verdagte in hegtenis geneem na die vinnige en ‘n goed gekoördineerde optrede deur lede van die Mokwakwailamisdaadvoorkomingseenheid en die polisie se taktiese reaksie-eenheid.

Lees ook: Vordering stadig maar seker met lig van Tzaneendamwal

Luidens die verklaring was ‘n slagoffer glo buite die plaashuis op die Macnoonlandgoed en het sy glo besluit om terug in die huis in te gaan, maar is verras deurdat die deur toegesluit was. Volgens die verklaring het die vroulike slagoffer besluit om ‘n ander ingang te gebruik en is toe deur ‘n onbekende verdagte, gewapen met ‘n AK47-geweer, “aggressief teëgestaan”. Die verdagte het glo aangedring dat sy die sleutels van ‘n motor, ‘n Kia Picanto, aan hom oorhandig en hy het met die voertuig gevlug.

“Die polisie is dadelik in kennis gestel van die voorval en het onmiddellik gereageer,” sê Mojapelo. “‘n Voertuig wat die beskrywing van die gesteelde voertuig pas is daarna in Ramoroka in die Bolobedupolisiëringsgebied gewaar. Polisielede het die voertuig voorgekeer en die verdagte is gearresteer. Die gesteelde vuurwapen is ook terug gevind,” sê Mojapelo. Die provinsiale polisiekommissaris, genl. Thembi Hadebe het die vinnige optrede van die polisielede wat tot die inhegtenisneming gelei het, geprys. Volgens Mojapelo sal daar ook verdere ondersoeke uitgevoer word om te bepaal hoe die vuurwapen, wat glo aan die huiseienaar behoort, gesteel is tydens die voorval.

Related Articles

Back to top button