Kliniek se water met E.Coli besmet

Na verskeie oorsigbesoeke aan die Letsitele-kliniek is dit deur 'n onafhanklike laboratorium bevestig dat die kraanwater met E.Coli besmet is.

Dit na Chrisma Bredenkamp, PR-raadslid vir wyk 23, verskeie besoeke afgelê het na klagtes van die gemeenskap ontvang is en uitdeindelik ‘n onafhanklike laboratorium genader het om watermonsters te neem en te ontleed. Die ontledings toon dat die water besmet is met die bakterie, E.Coli en nie geskik is vir menslike gebruik nie. Dit word as kategorie 3 geklassifiseer en hou veral groot gesondheidsrisiko’s in vir bejaardes en jong kinders.

Dit is veral kommerwekkend siende dat meeste pasiënte by die kliniek moeders en hulle babas is. “Die eerste oorsig besoek het ek en raadslid Chrizelle Dreyer na die kliniek gegaan. Ek het egter ‘n paar dae later alleen terug gegaan na die kliniek, want die reuk van die water het my gepla,” verduidelik Bredenkamp. “Ek vra toe een van die ouers wat met ‘n baba daar sit of daar ‘n probleem is. Die ma sê toe dat die kinders maagprobleme kry en ek het navraag gedoen oor die gevlekte vloere,” vertel Bredenkamp.

Sy het toe vermoed dat die water dalk besmet is met riool. Plaaslike inwoner, Ben van Coller het saam met Bredenkamp na die kliniek gegaan en versoek dat die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) die water moet toets. Bredenkamp het daarna met Tedia Molewa, hoof van waterwese by die GTM ‘n vergadering gehad om toestemming te kry om die GTM-pyplyn na die kliniek eerder te gebruik. Die vergadering het volgens Bredenkamp egter nie vrugte afgewerp nie siende dat die departement van gesondheid die saak sou moes dryf.

Also read: Moeilik om waterstropers in hegtenis te neem

“Ek moet byvoeg dat Tedia bereid was om skoon water in ‘n watertrok daagliks na die kliniek te stuur,” sê Bredenkamp.

Die Herald het saam met Bredenkamp, DA-parlementslid, Solly Mahlatsi, en die DA se adjunk-skaduminister vir gesondheid, Lindie Wilson die kliniek besoek om ‘n oorsig te doen op 28 April, waar daar toe bevestig is dat daar ‘n munisipale waterkraan beskikbaar is, maar dat dié gesluit is en die kliniek gebruik maak van ‘n boorgat en opgaartenke om water aan die kliniek te voorsien.

“Die ‘stand-off’ is tussen die munisipaliteit en die department van gesondheid. Die munisipale pyplyn is hier, die krane is hier om skoon water te voorsien, maar die departement van gesondheid het geweier om die krane oop te maak, deur die vorms in te vul, die deposito en die maandelikse koste te betaal. Die eindresultaat is dat die mense by die kliniek sieker en sieker raak. Pasiënte kom hier vir hulp en om gesond te word en in dié kliniek word mense sieker terug gestuur as gevolg van die E.Coli in die water,” het Wilson gesê.

Daar word vermoed dat eerder die opgaartenke of die grondwater van die boorgat besmet is met menslike ontlasting wat die oorsprong van die E.coli-besmetting kan wees. Die Herald het Neil Shikwambana, woordvoerder vir Limpopo se department van gesondheid gekontak vir kommentaar op die besmetting en ‘n plan van aksie om die saak reg te stel.

“Ons het ‘n verslag versoek van dr. Mongwe, die uitvoerende bestuurder vir die distrik, en sal sodra die verslag beskikbaar is kommentaar kan lewer en aksie kan neem,” het Shikwambana gesê. Die Herald sal die storie opvolg soos dit ontvou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version