Ben trek rekordvis uit by Cape Verde

Ben Vorster van die Letsitele-omgewing het op 19 Mei ‘n rekordvis, ‘n marlyn wat 1370 pond (ongeveer 621.5kg) weeg naby Montrego eiland by Cape Verde uitgetrek.

Vorster vertel dat Ryan Williamson, skipper van die boot Smoker, hom gekontak het siende dat hy ‘n kansellasie gehad het. Hy vertel dat hy dié geleentheid aangegryp het, al het hy ‘n bespreking gehad vir einde Julie vanjaar siende dat Mei-maand die beste maand vir marlyn-hengel is.
“Ek en my broer Gerhard, en vriend Michiel Roos het 14 marlyne uigetrek, waarvan ses meer as 450 pond geweeg het wat ons weer vrygelaat het na die vangs,” vertel hy. Hy vertel dat hulle juis by Williamson die ekskursie bespreek het om te leer om marlyn met ‘pitch bait’ te vang.

Dit is egter verlede Donderdag, op die tweede laaste dag van hulle sesdag-visvangekskursie wat hulle besluit het om na Montrego eiland, sowat drie ure per boot te reis, siende dat die marlyn beter daar gebyt het.
“Ons het om 07:00 die eerste lokaas in die water gehad en die vis het binne tien minute die aas gevat by so 300m-diepte,” vertel hy.
“Toe die vis opkom en ons die grootte kon sien, toe roep Ryan uit: ‘That’s your fish!’ Ons het toe 3kg-tuna as ‘pitch bait’ uitgegooi en die vis het dit so 10m agter die boot gevat en met dit gehardloop.

Lees ook: GALLERY: Letaba Bassmasters award their members

Marlyne spring gewoontlik agter die boot, maar dié vis het nie gespring nie so ons het nog nie geweet hoe groot die vis is nie,” vertel Vorster. “Ek het so 40 minute met die vis baklei tot die leierlyn begin uitkom. Ek het die vis nader getrek, maar Ryan het gesê dat die vis nog nie klaar is nie. Die vis het weer geswem en ek stoei toe nog so 25 minute verder met die vis voor ek dit uitgetrek het en die lengte van die vis kon sien,” vertel Vorster.
“Ons kon toe sien dit is ‘n grander, ‘n vis van 1000 pond plus. Dit was een van my groot lewensideale om ‘n grander uit te trek. Dit is ‘n groot eer om so ‘n ideal te verwesenlik. ‘n Mens voel klein,” sê hy.

Dit is terug op land wat die vis geweeg is en dit bevestig is dat dit die grootste marlyn is wat al in Cape Verde uitgetrek is en ook die tweede grootste marlyn wat al ooit gevang is. Die vis is net meer as vyf meter in lengte, het ‘n omtrek van 2.02 meter. Die stert meet 1.5 meter van punt tot punt. Die grootste marlyn wat al gevang is, was dertig jaar gelede in 1992 naby Brazilië uitgetrek en het 1402 pond ingeweeg.
Vorster, wat al vir jare diepseehengel, is verheug oor die vangs. Die marlynwyfie, meeste van die groot marlyne is wyfies, sal opgestop word in Amerika om as trofee behoue te bly.

“Ons het wel die vleis geskenk aan ‘n kerk by Cape Verde. Die mense op die eiland is arm so ons wou seker maak die vis word nie vermors nie,” vertel hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version