Moeilik om waterstropers in hegtenis te neem

'n Waterstroper is Maandagaand op heter daad in Letsitele betrap, maar dit blyk dat daar uitdagings is om 'n saak oop te maak teen diegene wat onwettig water tap.

Chrisma Bredenkamp, PR-raadslid by die Groter Tzaneense Munisipaliteit (GTM) vertel: “Een van die nuwe sluittoestelle op die brandkrane is Maandagaand deur ‘n waterstroper oopgebreek. ‘n Inwoner van Letsitele het die voorval gesien en vir Ben van Coller geskakel om ondersoek in te stel.

Ben was toe op die toneel, maar die verdagte kon nie in hegtenis geneem word nie, siende dat slegs die eienaar van die beskadigde eiendom ‘n saak by die polisie kan oopmaak.” Luidens Bredenkamp kan slegs die GTM ‘n saak by die polisie teen die waterstroper
oopmaak.

Vutivi Makhubela, woordvoerder vir die GTM het Dinsdag aan die Herald verduidelik dat Tedia Molewa, hoof van water en sanitasie by
GTM, Woensdag na Letsitele sal gaan om die saak by die polisie oop te maak.

Molewa was Dinsdag nie beskikbaar om die saak oop te maak nie siende dat sy vergaderings geskeduleer gehad het.

Also read: ‘Waterstropers’ word gefnuik

“Dit is teleurstellend dat daar selfs na al die moeite wat deur die munisipaliteit en gemeenskap in Letsitele gemaak is om waterstropers te stuit, daar steeds sekere mense is wat dit sien as ‘n geleentheid om water te steel. Daar is prosesse in plek, wat begin by die GTM, vir mense om water wettig te vervoer en sodoende wettige watervoorsieners te wees,” verduidelik sy.

Bredenkamp vertel ook dat daar op 28 April tydens ‘n Geïntegreerde Ontwikkelingsbeplanning (IDP) -vergadering ooreengekom is dat twee trokke van 10 000 liter op Vrydae in Letsitele mag water kry vir Mariveni se gemeenskap. “Siende dat Mariveni (wyk 23) baie ver van Tzaneen af is, het ons die versoek as billik gesien en dit toegestaan.

Dit sal onder beheerde omstandighede plaasvind en ons sal seker maak dat daar nie R1 per liter betaal word vir die water in Mariveni nie,” sê Bredenkamp. Volgens haar is daar nog geen reëlings getref deur watertrokdrywers of wyk 23 se raadslid om die water vir Mariveni te laai nie.

Exit mobile version